“Ons moet beslis ons seëninge tel, maar ons moet ook ons seëninge laat tel.” – Neal Maxwell
Dit is nooit te laat vir ouers om vrywilligerswerk saam met hulle kinders te begin doen nie. Dit is ook nooit te vroeg om jou kinders opgewonde te maak en betrokke te kry by vrywilligheidsaktiwiteite nie.
Hierdie artikel deel praktiese idees vir julle om as gesin geleenthede te vind vir vrywilligerswerk in jou gemeenskap.
Kinders leer die meeste deur wat hulle sien
Vrywilligerswerk bied kinders ’n geleentheid om te sien wat die impak van dien op ander het. Hulle leer waardevolle lesse deur saam met ander te werk, en bou hul sosiale vaardighede en selfvertroue op deur interaksie en gesprekke. Vrywilligerswerk kan gesien word as ’n sigbare uitbeelding van dankbaarheid vir wat jy het en ’n begeerte om dit met ander te deel.
Baie van ons word gebore met ’n begeerte om deel te wees van iets groter as onsself. As ouers, is dit baie belangrik dat ons ons gesinne deur ons goeie voorbeeld lei en vir ons kinders wys hoe vrywilligerswerk lyk. Dit demonstreer dat hulle die mag het om die wêreld ten goede te verander en op te staan vir sake waarin hulle glo.
Deur aan vrywilligersaktiwiteite deel te neem, dra kinders nie net by tot hul gemeenskappe nie, maar ontwikkel ook waardevolle lewensvaardighede wat hulle tot in volwassenheid sal help.
Idees vir vrywilligerswerk as ’n gesin
Daar is geen “een-grootte-pas-almal” benadering tot vrywilligerswerk nie. Daarom moet jy aktiwiteite en organisasies kies wat by jou gesin se waardes pas en wat ook pas by jou kinders se ouderdomme en belangstellings.
’n Goeie beginpunt sal wees om vrywilligerswerk in lyn te bring met jou kind se passies. Byvoorbeeld, as jou kind van diere hou, verduidelik hoe vrywilligersdiens by ’n diereskuiling sorg vir hulle behoeftes. As hy of sy van sport hou, bespreek afrigting of die organisering van sportgeleenthede vir minderbevoorregte kinders.
Deur vrywilligersgeleenthede aan hul belangstellings te koppel, kan kinders die direkte impak van hul pogings sien en meer betrokke en entoesiasties voel om terug te gee. Die doel van vrywilligerswerk is om dit ’n betekenisvolle ervaring vir die hele gesin te maak.
Hier is’n paar praktiese idees wat kan dien as ’n beginpunt:
- Gemeenskapsopruiming- en tuinmaakprojekte: Neem deel aan plaaslike skoonmaakgeleenthede of gemeenskapstuinbouprojekte om kinders te leer hoe belangrik dit is om vir die omgewing om te sien.
- Kosinsamelings: Organiseer of neem deel aan kosinsamelings om ’n nagskuiling in jou gemeenskap te ondersteun.
- Besoeke aan ouetehuise: Spandeer tyd saam met inwoners by ouetehuise om hulle dag op te helder.
- Fondsinsamelingsgeleenthede: Organiseer of neem deel aan fondsinsamelingsgeleenthede om plaaslike liefdadigheidsorganisasies of nie-winsgewende organisasies te ondersteun.
- Dade van welwillendheid (“random acts of kindness”): Moedig jou kinders aan om dade van vriendelikheid in jou gemeenskap uit te voer, soos om bemoedigende nota’s te los of lekkernye vir bure te bak.
Hoe om betrokke te raak
Sodra julle ’n geleentheid as ’n gesin geïdentifiseer het, doen navorsing oor plaaslike organisasies wat vrywilligers benodig en geleenthede bied wat geskik is vir alle ouderdomme in jul gesin.
Baie nie-winsgewende organisasies, soos Badisa, het gesinsvriendelike vrywilligersdae of spesifieke projekte wat kinders verwelkom. Nog ’n goeie manier om betrokke te raak is deur deel te neem aan gemeenskapsgeleenthede, soos skoonmaakdae, kosritte of sportgeleenthede ten bate van liefdadigheid. Hierdie aktiwiteite bied nie net ’n praktiese manier om ’n bydrae te lewer nie, maar laat ook familielede toe om saam te werk na ’n gemeenskaplike doel.
- Kry meer inligting op Badisa se webblad.Hierdie artikel verskyn as deel van ’n inhoudsvennootskap tussen Kerkbode en Badisa.