Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die sanger en skrywer, Jak de Priester, het ’n lied wat eksklusief vir Badisa geskryf is, bekendgestel tydens dié maatskaplike hulporganisasie se onlangse algemene jaarvergadering. Foto: Verskaf

Badisa vier mylpale in 21 jaar van genade


Badisa* het tydens sy Algemene Jaarvergadering (AJV), wat onlangs by die NG Kerk in Stellenberg gehou is, die maatskaplike hulporganisasie se 21 bestaansjare gevier met die vrystelling van Badisa se jaarverslag

In die verslag word 21 belangrike mylpale uitgelig, elk verteenwoordigend van ’n beduidende prestasie in die organisasie se geskiedenis. Die bekende Afrikaanse sanger en skrywer, Jak de Priester, het ook by dié geleentheid ’n lied bekendgestel wat eksklusief vir Badisa geskryf is. Dit simboliseer die begin van die volgende 21 jaar met hernude verwagting en opgewondenheid.

Basie van Wyk, Badisa se hoof uitvoerende beampte, het in sy refleksie op die organisasie se pad tot dusver gesê, “Om 21 jaar oud te word, het ons die geleentheid gegee om terug te kyk op belangrike mylpale deur die jare, en ons 2023/2024 jaarverslag vertel baie verhale van hoop en wat ons al bereik het. Dit skets ook die veranderende omstandighede wat ons organisasie moes oorkom deur die jare.”

Van hierdie veranderings sluit in verminderde steun vanaf die regering. Dit en verskeie ander faktore raak nie net Badisa nie, maar ook die nie-winsgewende sektor as geheel. Van Wyk het gesê hierdie uitdagings het strategiese aanpassings vir die organisasie genoodsaak om getrou aan sy visie te bly om ’n buurman vir elkeen in nood te wees. Hy het ook genoem, “gedurende die afgelope jaar het ons, vanuit ’n strategiese perspektief, spesifiek gefokus op verhoudingbou, volhoubaarheid, en die heroorweging van ons organisatoriese struktuur.”

Gedurende die 2023/2024 finansiële periode alleen, het Badisa sy dienste uitgebrei na net onder ’n miljoen kwesbare kinders, gesinne, gestremdes en bejaardes, en dié wat met dwelmmisbruik sukkel. Hierdie enorme poging is ondersteun deur 789 bestuursraadslede, 3,599* personeellede, en 1,656 toegewyde vrywilligers.

Van links, Dirk van Eeden, Badisa vrywilliger, Basie van Wyk, Badisa se hoof uitvoerende beampte en ds Charl van Rensburg, voorsitter van Badisa se bestuursraad.

Ds. Charl van Rensburg, Badisa-voorsitter het die organisasie se unieke benadering tot sy 21ste bestaansjaar beklemtoon: “Badisa streef nie daarna om 21 jaar oud en onafhanklik te wees nie; eerder wil sy 21 jaar oud en afhanklik van God wees, wat hoop voorsien.”

Soos Badisa na die toekoms kyk, is die organisasie se leierskap vol vertroue dat met standvastige geloof en voortgesette ondersteuning van skenkers, vrywilligers en die gemeenskap, Badisa vir nog baie jare ’n bron van hoop sal bly.

Besoek Badisa se webwerf om die volledige jaarverslag te lees. 

*Die getal is aangepas na publikasie.

  • Badisa is die naam wat gegee is aan die hulporganisasie wat in 2003 totstand gekom het uit die saamsmelt van die NG Kerk in Wes-Kaapland en die VGK in Wes-Kaapland se onderskeie maatskaplike hulporganisasies. 

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.