Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Afgevaardigdes by onlangse Oostelike Sinodesitting deel hulle verhale


Die illusie wat soms van sinodesittings geskep word, is dat dit bestaan uit dominees en ouderlinge wat dit infiltreer “van buite” … Amper soos die EFF wat met hulle rooi hoedjies kom toyi-toyi. Die feit is dat afgevaardigdes na ’n sinodesitting uit gewone mense bestaan. Mense wat afgevaardig word deur gemeentes. Mense met verwagtings en hoop. Mense met stories. ’n Paar van dié mense het met Hendrien van Vliet hulle stories gedeel ná die sinode verby is. (Lees ’n sinodeverslag hier).

Retha Kruidenier, predikant, NGK Pretoria-Faerie Glen

Retha Kruidenier, predikant, NGK Pretoria-Faerie Glen: In 2009 het ek my werk gelos. Ek was vir baie lank die vakreferent van Teologie in die biblioteek by Tukkies. My man is oorlede, en ek het gevoel ek het nou ’n verandering nodig in my lewe. Ek het self deur berading gegaan en gevoel ek kan mense help op hierdie manier. Maar my pad met teologie het eintlik heeltemal agterstevoor gebeur. My pad het begin met MPhil in teologie, toe ’n M in Pastorale berading en toe ’n PhD in pastorale berading. Later het ek die diensleraarroete gevolg, en oor vier jaar my Grieks en Hebreeus ook gedoen. Ek is nou vir bietjie meer as ’n jaar by Faerie Glen predikant, en hierdie is my eerste Oostelike sinodesitting. Daar is ’n gemoedelikheid onder die mense, en die besprekingspunte en verslae maak my opgewonde. Die mense praat uit hulle hart en daar is so baie om te leer.

Ronnie Stanton, ouderling, Pretoria-Garsfontein

Ronnie Stanton, ouderling, Pretoria-Garsfontein: Ek kan nie dans nie! En ek drink my koffie blou. Maar ek het al redelik baie gereis deur die loop van my jare. Ek het Teologie studeer in die jare wat dit van 7 jaar na 6 jaar gegaan het. Uiteindelik kapelaan geword, en ek was gestasioneer by Pomfret, en het met die Portugese gemeenskap gewerk. Een dag het ek gaan huweliksberading doen en ek moes my tolk saamvat. Ek is nog so besig om te probeer mooi praat, en my tolk sê “Pastor, pastor, I will sort this.” En hy praat warm en woes met hulle, en toe is dit uitgesorteer. Nou is ek afgetree en ek werk nou prakties by die kerk as gemeentebestuurder: maak die deur reg, ruil die slotte, spit gou ’n bedding.

Ná al my jare se diens, is hierdie my eerste sinodesitting van studentedae af. En ek was so antagonisties en negatief voor ek eers gekom het. Maar ek is verras. Dit was ongelooflik verrykend, en ek ervaar die mense en die temas baie positief!

Rikus Blom, predikant, NGK Meyerspark

Rikus Blom, predikant, NGK Meyerspark: Ek hou van die stad. Ek het hier kom studeer, en my meisie is in die stad, so toe dink ek ek moet maar hier bly. Ek doen toe aansoek by Meyerspark, en ek geniet dit vreeslik baie. Hulle is hartsmense en ondersteun ons so mooi. Ek luister nogal baie podcasts, ek weet, dit klink soos werk, maar ek geniet dit om te hoor van nuwe verwikkelinge en nuus. En soos wat dit gaan met die nuus het ek nogal baie vooroordele gehad oor wat die sinode gaan wees, en ek het gedink dalk meer bakleiery, soos wat jy maar hoor aan die ander kant. Maar ek het dit regtig sinvol beleef. Ek dink dis een van daai goed waar jy jouself in 5 wil deel, want ek wil by soveel goed betrokke raak. Ek het maar gesettle vir die Taakspan: Teologiese opleiding.

Annelize Meyer, argief en kommunikasie, Oostelike Sinode

Annelize Meyer, argief en kommunikasie, Oostelike Sinode: In my matriekjaar het vier pleegsorgkinders deel geword van ons gesin. Dit was heerlik om deel van so ’n groot huisgesin te wees. Ek het ook gereeld op sendingkampe en uitreike gegaan. Dit is dalk ook waar my liefde vir reis vandaan kom. Vroeër hierdie jaar het ek na Kroasië gereis om my dogter te ondersteun by die World Dance Challenge. Pragtige ou dorpies met “cobblestone” strate en ou kerkgeboue het die prentjie geskep van jare en jare se geskiedenis. Ek werk nou ook daarmee in die sinodehuis, waar ek verantwoordelik is vir die argief en kommunikasie. Dit is harde werk, maar dis lekker om gemeentes te help om hulle spogstories te vertel.

Almal het my gewaarsku dat ’n sinodesitting baie harde werk is. Hierdie is my eerste een, en alhoewel ek die woorde gehoor het, kon ek nie regtig verstaan hóé harde werk dit regtig is tot ek daar gekom het nie. Maar dit was ’n voorreg om deel te kon wees van die agter-die-skerms-werk, en dit was spesiaal om eerstehands die mooi verhoudings tussen sinodegangers te beleef. Saam met hulle klop my hart eenheid – die ewige optimis wat glo dat God meer kan doen as wat ons kan dink of droom.

  • Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.