Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Badisa | #Verskilmaker van die Maand: ‘Ek was op ’n donker plek … toe vra ek wat maak my uniek’


“Soos die bekende sê-ding lui, ‘It takes a village to raise a child.’ Ek wás daardie kind. Ek is een van sewe kinders, en het gereeld by ‘n ander grootmens gebly. Hetsy dit my ouma, tannie of my ma was. By elkeen van hulle het ek die waarde van omgee en liefde geleer. Dit is iets wat my gevorm het en steeds my dryfkrag is.”

Só vertel Anchelle Damon, ’n gemeenskapsontwikkelingsbeampte by Badisa wat streef om hoop te bou in die lewens van die mense van Hermanus, Stanford en Gansbaai te midde van uitdagings soos armoede, misdaad en geslagsgebaseerde geweld. Sê Anchelle, “Ek wil ‘n verskil maak, een mens op ’n slag.”

Vir Anchelle gaan haar werk oor veel meer as net projekte en programme – dit gaan oor mense. Met haar warm glimlag en sagte stem het sy reeds honderde lewens aangeraak. “Dit gaan oor opregte liefde – liefde wat nie geld vra nie. Dit is die soort liefde wat gemeenskappe bou en lewens verander.”

Internasionale erkenning verras 

Haar passie en toewyding is onlangs beloon met die PeaceJam-toekenning – ’n prestasie wat vir haar ’n groot verrassing was. “Ek was so verbaas,” erken sy. “Soms voel dit asof die werk wat jy doen, ongesiens bly. Maar hierdie toekenning het my laat besef dat daar mense is wat waarde heg aan wat ek doen. Dit motiveer my om aan te hou. Hierdie werk kom uit my hart – dis nie iets waarvoor ek betaal word nie.”

Die PeaceJam Foundation is ’n globale nie-winsgewende inisiatief met die doel om jong leiers te kweek wat toegewyd is aan positiewe verandering in hulself, hul gemeenskappe en die wêreld. Dit verbind jongmense met Nobelpryswenners vir Vrede wat hul wysheid, vaardighede en inspirasie met jongmense deel. 

Haar netbalprogram maak ’n verskil

Haar liefde vir mense het haar ook na die sportveld geneem. “Ek was op ’n donker plek ná ’n gewelddadige verhouding,” vertel sy. “Ek het myself gevra: wat maak my uniek? My antwoord was netbal.”

Anchelle het haar passie vir dié sport gebruik om haarself én haar gemeenskap te herbou. Vandag, 15 jaar later, is haar netbalprogram steeds aan die gang. Dit het reeds talle meisies se lewens verander – van dié wat tienerswangerskappe vermy het, tot ’n ma wat ’n stryd teen dwelms gewen het en haar plek by ’n Wes-Kaap-toernooi ingeneem het. “Ek sê altyd: as ek net een lewe kan verander, weet ek ek is op die regte pad.”

Anchelle weet hoe dit voel om vasgevang te wees. Sy weet wat dit beteken om te veg vir oorlewing, om letterlik te ontsnap uit ’n verhouding wat haar lewe bedreig het. Maar sy weet ook wat dit beteken om weer op te staan, om aan te hou en om weer te bou. “Dit was nie maklik nie,” sê sy. “Maar ek het geweet ek moet my lewe terugvat. En vandag kan ek sê, ek is sterker as ooit.”

‘Ek kan iemand help’

Vir Anchelle gaan alles oor omgee. Haar droom vir die gemeenskap is eenvoudig: vrede, liefde en opregte ondersteuning. “Ons moet hande vat. Ek het dalk nie altyd geld of kos om te gee nie, maar ek kan iemand help om ’n plan te maak. Dit is die soort mentaliteit wat gemeenskappe transformeer.”

Haar verhaal is ’n getuienis van hoe liefde, deursettingsvermoë en geloof in mense ’n hele gemeenskap kan verander. “Ek wil net onthou word as iemand wat werklik daar was vir haar mense – iemand wat lief was en omgegee het.”

  • Hierdie artikel verskyn as deel van ’n inhoudsvennootskap tussen Kerkbode en Badisa.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.