Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Badisa | Liza se dagsorg bied veilige toevlug vir kinders op Kaapse Vlakte


Soms is dit die kleinste handjies wat die grootste veranderinge bring. Liza Otto van Ravensmead vertel sy het by die tuismoederprogram van die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling geleer om met kleuters te werk en hulle op te voed terwyl sy ook bemagtig is as entrepreneur om haar eie besigheid te bestuur.

Liza se dagsorg ’n toevlugsoord

In ’n wêreld waar kinders dikwels aan uitdagings soos armoede en dwelmmisbruik blootgestel word, het Liza se dagsorg ’n toevlugsoord geword. Sy vertel, “die kinders wat by my kom, kry die kans om vir ’n paar uur per dag weg te breek van negatiewe invloede en iets positiefs te leer”.

Met trots vertel sy hoe kinders wat sedert 2020 by haar was, nou al in die skool is en steeds onthou wat hulle daar geleer het. Liza sê: “Dit maak my geweldig trots as ouers my vertel, of selfs vir my voice notes stuur, oor wat hulle kinders by die huis sê en sing. Al lyk dit asof ons net speel die heeldag, leer my kinders eintlik baie, en dit maak my verskriklik bly.”

Werkloosheid is een van die grootste uitdagings in Liza se gemeenskap. Dit veroorsaak dat baie ouers nie dagsorg kan bekostig nie. Sy verduidelik: “Baie kinders word aan hulleself oorgelaat omdat hulle te jonk is vir skool. Badisa help my om hierdie kinders teen ’n baie lae prys, of selfs verniet, in te neem deur skryfbehoeftes, kos en ander hulpmiddels te voorsien.”

Hierdie ondersteuning het haar in staat gestel om meer kinders en hul ouers te help, en om ’n waardevolle diens in haar gemeenskap te lewer.

Roeping van die hart

Vir Liza is dit nie net ’n beroep om ’n tuismoeder te wees nie, dit is haar passie. “Dis ’n riem onder my hart om my gemeenskap te help. Dit bring vir my die grootste plesier om na die kleintjies te kyk, vir hulle te sorg en hulle op te voed. Hulle is immers ons grootmense van môre en ons toekoms.”

Vir enige ma wat onseker daaroor is om ’n tuismamma te word, het Liza net een boodskap: “Ek beveel dit ten sterkste aan. Little Seeds se tuismoederprogram is ongelooflik leersaam en die moontlikhede is eindeloos. Aan die een kant help jy jou gemeenskap en doen jou deel, en aan die ander kant maak dit baie deure vir jou oop.”

“Ek is baie trots op myself dat ek, al is dit ’n klein diens, ’n verskil kan maak in kinders se lewens en my gemeenskap kan dien. Dit doen baie vir jou selfbeeld en persoonlike groei. Dit is regtig die moeite werd,” sluit sy af.

Só kan jou gemeente betrokke raak by vroeëkinderontwikkeling 

Jou ondersteuning kan Little Seeds se dagmoeders help om aan te hou om groot verskille in klein lewens te maak. Skenk hier. In hierdie video deel ds. Melanie Thirion, Little Seeds se vroeë kinderontwikkelingsbeampte, waardevolle insigte oor waarom kerkgemeenskappe betrokke moet raak by vroeë kinderontwikkeling. Die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling is ’n gesamentlike inisiatief van die Wes-Kaapse maatskaplike organisasie Badisa saam met Diaconia, die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk en VGK.

  • Hierdie artikel verskyn as deel van ’n inhoudsvennootskap tussen Kerkbode en Badisa.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.