Toe Suzette Hendricks (25) en haar gesin in 2022 vanaf Oudtshoorn na Vanrhynsdorp verhuis het, het sy nooit gedink dat sy haarself eendag in die vroeë kinderontwikkelingsveld sou bevind nie. Maar soos Suzette self sê, “Ek het destyds nie werk gehad nie, maar ek wou iets in die gemeenskap bou.”
Vandag is sy nie net ‘n getuie van hoe ‘n hart vir kinders ‘n gemeenskap kan verander nie, maar ook ‘n leier wat moeders inspireer om ‘n liefde vir opvoeding te kweek.
Die begin van groot dinge
Suzette se pad as dagmoeder het nie met ‘n strategie of ‘n voorafbeplande roeping begin nie.
“Ek het nie ‘n werk gehad toe ons in Vanrhynsdorp aangekom het nie,” vertel sy. “Ek wou iets doen, iets beteken, maar ek het nie geweet waar om te begin nie.”
Dit was toe dat Badisa Vanrhynsdorp haar genader het. “Wil jy nie ‘n dagmoeder word nie?” het die maatskaplike werker haar gevra. Boksie vir Buksie, ‘n vroeë kinderontwikkelingsprogram wat deel vorm van Little Seeds, Badisa se vroeë kinderontwikkelingseenheid, was op soek na gemeenskapslede wat wou help om kinders in hul vroeë ontwikkelingsjare te ondersteun.
“Ek het nie geweet of ek suksesvol sou wees nie,” erken sy eerlik. “Maar ek het dit probeer, en dit het my lewe verander.”
Suzette het ses kinders in haar sorg geneem en ‘n klein kleuterskool in haar gehuurde huis begin. Die gemeenskap het dadelik positief gereageer. “Vanrhynsdorp het destyds nie ‘n kleuterskool gehad nie. Dit was net die laerskool en hoërskool.”
Sy onthou hoe sy gesukkel het om die klasruimte in stand te hou, omdat sy geen inkomste daaruit verdien het nie. “Die geld wat ek van die ouers ontvang het, is direk vir die huur gebruik. Maar ek het dit nie vir geld gedoen nie. Dit was ‘n saak van die hart.”
Vir ‘n jaar en ses maande het sy die enigste dagmoeder in Vanrhynsdorp gebly. Maar toe word die huur te duur, en Suzette moes die hartseerste besluit neem om die sentrum toe te maak.
“Ek het dit baie geniet om daardie klein lyfies en glimlaggies te sien. My hoop was dat ek nog altyd ’n verskil sou kon maak.
Ek onthou ek het ’n baba, Amoré, in my sorg gehad wat op daardie stadium agt maande oud was. Al die kinders het my ‘Tannie Bannie’ genoem. Op ’n dag het baba Amoré haar eerste twee woorde gesê, en dit was ‘Tannie Bannie’. Ek kon dit nie glo nie! Haar eerste woorde was in die klaskamer waar ek haar gehelp het om te leer.”
“Daardie dag het ek vir myself gesê, ‘Jy kan enigiets bereik as jy daarvoor kans sien en bereid is om daarvoor te werk.’”
Oop deure
‘n Nuwe deur het vir Suzette in Maart 2024 oopgegaan toe sy ‘n pos by Badisa Tygerberg gekry het.
“Dit was ‘n groot aanpassing,” erken sy. “Ek het van ‘n klein plattelandse dorp na ‘n groot kantoor met baie mense verhuis. Die eerste dag was ek bang. Ek het vir myself gesê, “Ek is nie goed genoeg hiervoor nie.”
Maar soos soveel ander tye in haar lewe, het sy sterk gestaan en die pad aanhou stap.
Vandag is Suzette deel van ‘n span wat tuismoeders ondersteun en bemagtig. “Ek kan my eie storie gebruik om ander te help,” sê sy. “Ek weet hoe dit voel om van voor af te begin, om onseker te wees, en om te wonder of jy regtig ‘n verskil maak.”
Sy onthou spesifiek ‘n oomblik wat haar perspektief oor vroeë kinderontwikkeling vir altyd verander het.
“Ek het by ‘n tuismoeder besoek gaan aflê en ek het op die mat gesit en vir die kinders hand-oog-koördinasiespeletjies gewys. Die ander kinders het bygekom, en die tuismoeder het ook nader gesit om te kyk wat ek doen. Daardie dag het ek besef hoe groot ‘n verskil ek regtig in ’n kind se lewe kan maak, deur net vir hom of haar te wys hoe om ’n potlood reg vas te hou of blokkies inmekaar te sit.”
Hoop vir die toekoms
Suzette wil graag haar graad in maatskaplike werk voltooi, en droom van ‘n dag wanneer elke dagmoeder en elke tuismoeder in haar gemeenskap die ondersteuning kry wat sy moes soek.
“Ek wil hê hulle moet weet: jy kan begin met ses kinders en eindig met dertig. Jy kán ‘n verskil maak, al voel dit klein. Jou werk is belangrik.”
Haar raad aan ander moeders wat wonder of hulle die sprong moet waag?
“Glo. Vertrou. Begin klein. En weet dat jy nie alleen is nie.”
- Little Seeds is ’n Vroeë Kinderontwikkeling (VKO)-eenheid wat programme en dienste van Diaconia en Badisa integreer. Hul intervensies skep nie net bewustheid oor vroeë kinderontwikkeling nie, maar brei ook toegang tot vroeë leer uit deur huis – en gemeenskapsgebaseerde programme en projekte, asook dag- en nasorgsentrums. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan info@badisa.org.za.