Groen spiritualiteit moet vloei soos water in alles wat die kerk doen. Só meen dr Barry Tolmay, wat einde Mei die eerste samekoms van die eerste permanente ekologietaakspan van die Algemene Sinode van die NG Kerk help reël het. Heléne Meissenheimer berig uit Durban.
Vir Tolmay sluit die opdrag om jou naaste lief te hê ook liefde vir die aarde in en hy kon kwalik ’n mooier vergaderplek gekies het vir die eerste kenmekaar. Op 28-30 Mei het taakspanlede op Ballito noord van Durban saamgetrek (boonop enkele dae voor Wêreldomgewingsdag, 1 Junie).
Die nuwe taakspan sal fokus op praktiese leiding op gemeentevlak. Soos dr Nioma Venter dit aan taakspanlede gestel het, “die vraag wat julle hier moet beantwoord is hoe gaan julle gemeentes help?” Sy is as algemene sekretaris van die NG Kerk verantwoordelik om al die kerk se taakspanne se werksaamhede te koördineer en met mekaar te belyn.
Wat sê die Bybel?
Op die taakspan se agenda met hierdie eerste ontmoeting: “Wat sê die Bybel oor God se ekologie?” Die program het ook ’n stewige dosis ervaringsleer ingesluit. Dit het gefokus op waterbesoedeling en plastiek en het ’n “veldlesing” ingesluit deur ’n omgewingskundige by een van die stroompies wat in die Umgenirivier invloei. Daarna het ’n besoek aan die riviermond en Durban se hawe gevolg. Die hoogtepunt was ’n oopsee-snorkelsessie saam met ’n marienebioloog.
Agt predikante, wat sover sewe van die kerk se nege sinodale streke verteenwoordig, dien op hierdie taakspan. Hulle werksaamhede vloei uit ’n opdrag wat afgevaardigdes aan die kerk gegee het tydens die sitting van die Algemene Sinode (AS) in 2023, naamlik dat ’n permanente taakspan vir ekologie aangewys word met die taak om ’n teologiese raamwerk rondom ekologie op te stel “waaruit die kerk (sinodes en gemeentes) gehelp kan word om binne hulle spesifieke konteks teologies verantwoordelik met die omgewing te kan omgaan” (soos verwoord in die notule van die Algemene Sinode van 2023).
Taakspanlede: Jonk maar nie groen
Sommige taakspanlede het jare se ervaring op hulle sinodale “groenspanne”. Ander kom uit sinodes sonder sulke taakspanne. Die meeste is boonop nog relatief jonk in die bediening, maar hy is opgewonde oor die energie wat hulle bring, het Tolmay, tans in sy tweede termyn as moderator van KZN-sinode, gesê.
Hy het twee doelwitte vir die taakspan se eerste ontmoeting gestel: die bou van goeie verhoudings en ’n belewenis van waaroor die taakspan se werk gaan. Die teologie van ekologie gaan vir hom oor ’n geleefde spiritualiteit. “Dit maak my opgewonde oor die kerk … met ekologie kan die kerk deel van die antwoord wees vir die land se uitdagings. Dit moenie apart staan van enigiets wat ons in die kerk doen nie,” het Tolmay, ’n missionale professor met wydlopende ervaring in die sakewêreld, gesê.

Die Bybel deur ’n ‘groen lens’
Op die eerste aand is gehoor hoe geestelik verrykend ’n herlees van Bybelse tekste met ’n “groen bril” kan wees. Stories is ook gedeel van die praktiese impak wat gemeentes deur ekoteologie in hulle gemeenskappe kan hê. Voorbeelde het ingesluit die oprig van waterpunte wat die hele gemeenskap bedien en die hou van ekokampe vir jongmense.

Die span het gehoor hulle opdrag se uitvoering gaan bewussyn verg van vele kompleksiteite wanneer oor die omgewing gepraat word. Dit sluit in om nie oorvereenvoudigde antwoorde te bied nie, om die sosiale werklikhede van armoede deel te maak van gesprekke oor groen sake en om bewus te wees van die verskillende maniere hoe mense hieroor dink.

Tolmay het spanlede op die laaste dag getaak om in hulle eie sinodale streke ’n span te begin saamstel. Intussen neem Ou Testament-prof Willie van Heerden van Noordelike sinode onder meer verantwoordelikheid om ’n teologiese raamwerk te begin opstel, die “belangrike onderbou van ons werk,” sê Tolmay. Ander het onder meer verantwoordelikheid om vir plastiekbesoedeling en watersubgroepe kundiges bymekaar te bring. Hy het sy visie vir hierdie nuwe taakspan so omskryf, “Ons gaan ’n nasionale learning community word. ’n Movement … want dit is deel van God se Missio Dei.”
- Die artikel is aangepas na publikasie.