Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Donderdag 26 Junie is Internasionale bewusmakingsdag teen dwelms. Denver van der Bergh was vir 25 jaar aan dwelms verslaaf, maar is nou al vyf jaar 'skoon'. Foto: Verskaf

26 Junie plaas fokus op hulp met middelafhanklikheid

Hy wou dit op ’n spesiale manier vier dat hy vyf jaar skoon is van dwelms. Toe besluit Denver van der Bergh om vanaf Rondebosch in die Kaap tot in Pietermaritzburg te hardloop – 1 603km ver – om drie dae later die Comrades-maraton ook te doen.

“Enigiets is moontlik as jy glo,” vertel die 48-jarige atleet vir Conette le Roux van LiG. Hy het met hierdie ‘ultra-maraton’ van hom fondse ingesamel vir Ramot-rehabilitasiekliniek in Parow – die plek wat sy lewe verander het na hy 25 jaar ’n verslaafde was.

Lees sy inspirerende storie: Gerehabiliteerde verslaafde hardloop 1 603 km na Pietermaritzburg én toe Comrades: ‘Enigiets is moontlik as jy glo’

Donderdag 26 Junie is Internasionale bewusmakingsdag teen dwelms. Die Suid-Afrikaanse Groep vir Depressie en Angstigheid (Sadag) se navorsing wys dat 12 die gemiddelde ouderdom is van jongmense met middelafhanklikheid in Suid-Afrika. Die helfde van Suid-Afrikaanse tieners drink ook reeds alkohol. 

Hierdie ontstellende statistieke beklemtoon die dringendheid om jongmense betyds te ondersteun voordat verslawing posvat. Ongelukkig keer stigma dikwels dat mense hulp soek, wat veroorsaak dat baie jongmense alleen en vasgevang voel in hul stryd. 

Die Wes-Kaapse hulporganisasie Badisa doen uitgebreide ondersteuning aan mense wat met verslawing worstel asook aan hulle gesinne. Hulle deel die volgende wenke hoe om iemand met verslawing te help:

  1. Luister sonder oordeel

Wees werklik teenwoordig wanneer jy met jou geliefde gesels. Vra hoe dit régtig gaan. Om te weet iemand gee om, kan dalk net genoeg wees om ’n helende gesprek te begin.

  1. Let op gedragsveranderinge

Hou fyn dop vir vroeë tekens soos verandering in gemoed, vreemde (nuwe) gewoontes of wissling in energievlakke. As jy iets oplet, gesels met hulle daaroor op ’n liefdevolle en sorgsame manier.

  1. Moedig professionele hulp aan

Die pad na herstel is ’n lang en ingewikkelde proses. Moedig jou geliefde aan om professionele hulp te kry, soos terapie of om by ‘n ondersteuningsgroep aan te sluit, waar hulle leiding en praktiese hulpmiddels kan ontvang.

  1. Breek die stigma rondom verslawing

Stigma laat mense dikwels voel of hulle nie hulp verdien nie. Dis belangrik om hierdie persepsie te verander deur gesprekke te hê rondom:

  • Die vermyding van skadelike etikette
  • Stories van hoop en herstel
  • Die mens agter die probleem

Badisa bied ’n reeks dienste wat mense help op elke stadium van hul herstelpad, insluitend voorkoming en naversorging:
● Voorkoming, inligting en bewusmaking: opvoedkundige veldtogte help jongmense om ingeligte besluite te neem en dwelmmisbruik te vermy.
● Berading en verwysing: diskrete berading en persoonlike verwysings na geskikte behandelingsdienste vir diegene wat reeds sukkel.
● Gemeenskapsgebaseerde behandeling: in samewerking met Toevlug en Ramot behandelingsentrums bied Badisa plaaslike ondersteuning.
● Binne-pasiënt behandeling: veilige, gestruktureerde sorg by Ramot en Toevlug behandelingsentrums vir beide jongmense en volwassenes.
● Naversorging en ondersteuning: voortgesette terapie, ondersteuningsgroepe en herintegrasiedienste help jongmense om voort te bou op die vaardighede wat hul tydens die herstelproses leer.
● Vroeë intervensie: die Abba maatskaplike werkprogram help om die vroeë tekens van middelsmisbruik te identifiseer en bied tydige ingryping.Vir meer inligting oor Badisa en die ondersteuningsdienste wat hulle bied, besoek: 
www.badisa.org.za.

Maak ’n skenking om Badisa se werk te ondersteun

Verwante artikels

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Scroll to Top