“Ek het nie geweet Wellington het so baie jongmense nie,” het die Kerkbode-span gehoor by ’n onlangse aanbieding van Wysheid en Wyn, ’n inisiatief wat die NG Moedergemeente van hierdie Bolandse dorp ’n paar jaar gelede begin het. Foto’s: Heléne MeissenheimerDie aande is gemik op jong werkendes in hulle 20’s en 30’s wat “verder weg van die kerk staan en nie noodwendig in die erediens kom nie,” verduidelik ds Francois Maritz. Hy meen wat hulle hier doen, is ook kerk.Die aande word gehou op die eerste Woensdag van elke maand. Dit gebeur in die intieme kunssinnige atmosfeer van die Bordienghuis-teater van die Breytenbach-sentrum. Dan word oor stukke pizza en glase wyn (of water of Coke) geluister na iemand kundig oor enigiets van finansies, die lewe en soms ook geloof. Daarna kan elkeen wat kom “hulle stories uitruil op hulle terme, op hulle manier”, voeg Maritz by. Die aande trek jongmense so ver as Melkbosstrand en die Paarl.Op Woensdag 6 Augustus was die kleinerige vertrek gevul met ’n vrolike geroesemoes van mense. In vennootskap met Kerkbode is die sanger Deon Meiring gevra om met Jaco Strydom, die skrywer-predikant van Pretoria, te gesels oor sý eerste boek gemik op jongmense, Eendag is te ver: Geloofsgedagtes vir jong Jesusvolgelinge.Strydom was lank ’n berader en leef al 24 jaar tussen jongmense in sy Echo-jeughuise. Strydom het gesê dit is goed hoe Maritz-hulle hierdie aande aanbied. “Jongmense, as jy hulle soos ’n ui afskil, is eintlik alleen. Hulle is lonely en … community antwoord eintlik ons diepste dors om nie alleen te wees nie. Partykeer is die kerk die laaste plek waar mense voel dat hulle net hulleself kan wees … dit is goed om op ’n alternatiewe plek uit te hang waar ons oor geestelike goed kan praat, nuwe konneksies kan vorm,” sê hy.Die aand is afgesluit met die rustige kitaarklanke van Erich Zulch, ’n dominee verbonde aan Groote Kerk, wat saam met sy band enkele van sy eie komposisies gespeel het.Jaco Strydom se boek word uitgegee deur Lux Verbi en is aanlyn te koop, ook by Bybel-Media.
Ondersteun
Vriende van Kerkbode
Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…