Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In 2023 kon ds Bennie Janse van Rensburg nog sy kleinkind doop in die NG Moedergemeente Wellington waar hy 25 jaar predikant was voor hy in 2021 om mediese redes moes aftree. Foto: Verskaf

Gemeente groet leraar wat in sy donkerste tyd getuig het: ‘Die genade oortref altyd die seer’

Op Sondag 19 Oktober het ds Bennie Janse van Rensburg sy siektestryd verloor. Hy was vir 25 jaar predikant by die NG Moedergemeente Wellington tot hy op 60 in 2021 om mediese redes moes uittree. Vroeër het hy ook die gemeente Brandwag in Bloemfontein bedien.

Sy gedenkdiens is Vrydag 24 Oktober om 11:00 by die NG Moedergemeente Wellington. Die beplanning sluit in om die gebeure op die gemeente se YouTube-kanaal uit te saai.

In ’n huldeblyk deur Hugenote Kollege, waar ds Bennie vir twee dekades as direksielid gedien het, is die leraar as ’n man van geloof, wysheid en onwrikbare toewyding beskryf.

As predikant van NG Moedergemeente Wellington was sy invloed onlosmaaklik verweef met dié van die kollege. “Hy het nie net die Woord bedien nie, maar ook die waardes van liefde, nederigheid en diensbaarheid beliggaam. Vir studente, dosente en personeel was hy ’n vertroude stem en ’n bekende gesig – altyd bereid om te luister, altyd bereid om te help. Sy kantoor en sy hart was altyd oop,” luidens die huldeblyk.

Die gebore Vrystater is in 2007 gediagnoseer met FSHD-spierdistrofie, ’n oorerflike spierkwynende siekte waarvoor daar nie genesing is nie. Gevorderde kolonkanker is ook in 2014 by hom gediagnoseer, maar na ’n intensiewe behandeling met chemoterapie was dit in remissie.

Bennie en Susan, sy “engel” soos hy sy vrou genoem het. Foto: Robert Cable

Hy het aanhou bedien totdat dit te moeilik vir hom geword het om by mense uit te kom. Ds Lettie Büchner, sy kollega, het hom vroeër vanjaar gevra om op video vir die gemeente te vertel van sy eie geloofsvrae rondom donker tye. Hy het later vir Kerkbode vertel haar versoek het hom laat nadink oor die stories wat ons in die kerk vertel, dat hy meen die stories wat ons moet deel nie net suksesstories sal wees nie, maar ook “stories waar die Here jou nie uit die put haal nie, maar die put uit jou haal”.

Al was hy grootliks huisgebonde, het Janse van Rensburg steeds by sy gemeente betrokke gebly onder meer deur weekliks aanlynboodskappe na gemeentelede vanaf sy tablet uit te stuur. Op sy gemeente se Facebookblad lui in ’n huldeblyk: “Ons gemeente het vandag ’n familielid, ’n leier en ’n wyse man verloor.”

Hy laat sy vrou Susan, twee kinders en skoonkinders en twee kleinkinders agter, met nog ’n kleinkind wat op pad is.

  • Die berig is aangepas na publikasie.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top