Tien jaar gelede het ’n Kaapse predikantsvrou besef daar lê ’n geweldige krag in gemeenskappe en so is ’n onlangs bekroonde projek gebore wat ma’s, skole en kinders van die Kaapse Vlakte help met veel meer as net beter somme maak.
Sonja Cilliers het op 17 Oktober ’n toekenning as brugbouer ontvang tydens ’n glansaand gehou in Kaapstad. Sy sê hierdie toekenning is ’n prys vir elke ma wat deel is van MathMoms. Sy is die stigter en hoof van hierdie nie-winsgewende organisasie wat werklose ma’s en jongmense van die Kaapse Vlakte oplei hoe om kinders te help om beter in wiskunde te doen. Die organisasie is ook by skole betrokke om onderwysers met wiskunde-onderrig by te staan.

So suksesvol was hierdie inisiatief dat dit jaar op jaar uitgebrei het.
In syfers vertaal het hulle in net meer as tien jaar gegroei vanaf een mentor, agt wiskundema’s en 32 Graad 3-leerders na onder meer 21 mentors (dikwels oud-onderwysers), 169 wiskundema’s, betrokkenheid by 29 skole en sowat 3 500 kinders wat op verskillende maniere bereik word. So vertel haar dogter, dr Judy-Ann Cilliers, ook van MathsMoms.

Dit gaan hier egter oor veel meer as beter syfervaardigheid. Soos gesien op hulle webblad gebeur daar ook heelword van trauma en verhoudings. Werklose ma’s en jongmense getuig van selfvertroue om nuwe beroepe en projekte aan te pak. Skole oor die verskil wat hulle in leerders sien. Soos hulle 2024-impakverslag lui: “That is what we want MathsMoms to be: a learning community for mentors, moms and learners where ‘back to basics’ does not merely mean that everyone learns to count but that everyone learns that they truly count”.
Cilliers was een van drie wat vanjaar as kampioene van maatskaplike geregtigheid vereer is deur prof Thuli Madonsela se Centre for Social Justice by Universiteit Stellenbosch. Die toekennings vind jaarliks plaas in vennootskap met Champion South Africa. Madonsela het die aand gesê dit is krities dat mense soos Cilliers en die ander gevier word. “In a world of abundance yet deepening division – where algorithms amplify hate and inequality widens – … it is crucial that these champions are seen, heard and recognised so their example can inspire others,” soos berig op die universiteit se webblad.
‘Ek is nie die een wat regtig kan help nie’
Agter die ontstaan van MathsMoms lê ’n mooi storie. Cilliers sê sy het tien jaar terug toe sy by ’n laerskool in Elsiesrivier betrokke was twee dinge besef, daar lê eintlik geweldige krag in daardie gemeenskap en dat sy by daardie hulp moet uitkom want sy is nie die een wat regtig die kinders kan help nie. Só vertel sy vroeër vanjaar vir joernalis Lizelle de Bruin tydens ’n opname vir Wat het jy in jou hand? ’n reeks wat op Sondagaande op RSG uitgesaai is. Luister gerus na hulle gesprek by die skakel onderaan die berig.
Raak betrokke – borg ’n MathsMom: https://mathmoms.co.za/
