Vir Arendéne du Plessis, voorsitter van Badisa Tulbagh se beheerraad, is gemeenskapsdiens nie net ’n projek of ’n posisie nie, dis ’n manier van leef. Haar betrokkenheid by Badisa het elf jaar gelede begin, kort nadat sy na Tulbagh getrek het.
“Ek het in die Kaap gewoon, en toe ek Tulbagh toe verhuis het, het my oorlede skoonpa voorgestel dat ek by Badisa betrokke raak. Hy het altyd Badisa ondersteun en sy liefde vir die organisasie was aansteeklik.”
Nadat ds. Simpson in 2023 van die beheerraad afgetree het ná meer as 35 jaar se diens, het Arendéne as voorsitter oorgeneem. “Ek was nog altyd lief vir kinders en vir die gemeenskap,” vertel sy. “Ek het voorheen ’n speelskool begin, en ek doen ook al vir jare die Santa’s Shoebox-projek in Tulbagh.”
Tussendeur is sy en haar man die eienaars en bestuurders van die OK Express en vulstasie op die dorp, terwyl hulle drie kinders grootmaak. Hul het twee dogters asook ’n seuntjie wat aan ’n seldsame siekte ly. “Hy doen baie goed onder die omstandighede,” sê sy.
Die mense agter die missie
Hoewel die Badisa Tulbagh span klein is, is hul baie dinamies. “Ons het twee baie goeie maatskaplike werkers, ‘n hulpmaatskaplike werker en ‘n nuwe administratiewe beampte,” verduidelik Arendéne. “Ons is agt beheerraadslede, en almal doen hulle deel. Dit is nie ’n one man show nie. Dis wonderlik om met mense te werk wat lief is vir die Here, en vir die gemeenskap.”
‘Ek het besef ons gaan moet sterk staan’
Sowat drie jaar gelede is Badisa Tulbagh se kantoor die teiken van ’n inbraak wat baie skade veroorsaak het. “Die kantoor was totaal geplunder,” vertel Arendéne. “Baie van die leêrs is beskadig omdat die diewe boonop ’n vuur in die gebou gemaak het.”
Die tydperk ná die inbraak was uitputtend. “Die tydelike kantoor was glad nie ideaal nie,” verduidelik sy. “Daar was geen privaatheid vir ons maatskaplike werkers om met hul kliënte te gesels nie, en ons moes al die leêrs en verlore inligting weer opbou. Dit was ’n hengse taak.”
Juanita Beukes, wat destyds die BMD was, het ’n groot rol gespeel in die herstel proses. “Sy het ons gehelp om orde te bring in ’n tyd wat vir almal moeilik was,” sê Arendéne. “Nou is alles weer op datum en reg.”
Na ‘n tydperk van onderhandeling met die munisipaliteit, Toerisme Raad en Volksmuseum het Badisa Tulbagh uiteindelik ‘n nuwe werksperseel gekry. “Elke werknemer het nou hul eie kantoor, daar is privaatheid, spasie vir opleiding en genoeg badkamer fasiliteite. Vandag is ons kantoor ’n plek waar ons werklik mense met waardigheid kan ontvang.”
‘Ons kon ons deure oophou en ons gemeenskap ondersteun’
Finansies bly ‘n uitdaging en veral op die platteland. Ons het ook deur ‘n uitdagende tyd gegaan maar soms wanneer dit voel of jou rug teen die muur is, begin die kreatiewe oplossings kom! Wat daarna gevolg het, was ’n tyd van geloof, deursettingsvermoë en harde werk. Ons het fondse begin insamel en ons het uitgawes gesny waar ons kon. Ons het met boere gaan praat en voetwerk gedoen om mense te sien en fondse te werf”, vertel Arendéne.
Stadig maar seker het dinge begin draai. “Die Here is so goed,” sê Arendéne. “Hy het die deure vir ons oopgemaak. Vandag, vir die eerste keer, is Badisa Tulbagh op ‘n goeie plek. Ons het selfs ’n bietjie geld wat ons kan belê vir die toekoms.”
’n Wending in die regte rigting
Hoewel Badisa Tulbagh en Steinthal Kinderhuis deel van dieselfde Badisa-familie is, is die fokus anders. “Dis soos om sakgeld vir ‘n boetie en sussie te gee’, se Arendéne. Ons het elkeen ‘n eie fokus en unieke doel. Ons wil dus die gemeenskap uitnooi om albei te ondersteun aangesien ons saam werklik ‘n positiewe verskil kan maak.
“In die laaste twee jaar het daar werklik iets verander,” vertel Arendéne. “Die gemeenskap verstaan nou beter watter dienste ons aanbied. En ook, ons het vir die eerste keer ’n baie goeie BMD gekry. Juanita Beukes het ons program oorgeneem en vir ons kantoor wonderlike leiding gegee.”
Toe Juanita vroeër vanjaar in ’n motorongeluk sterf, was dit ’n groot slag, vir Badisa as ‘n gemeenskapsorganisasie maar veral ook vir die Badisa Tulbagh span. “Dit was op ’n persoonlike én professionele vlak vir ons ’n geweldige terugslag gewees,” sê Arendéne. “Maar toe het nog ‘n BMD, Linda Awerbuch, by ons aangesluit en haar kennis en insig is net so fenomenaal.”
Hierdie opeenvolgende sterk leiding het Badisa Tulbagh nuwe stabiliteit gegee. “Vir die eerste keer het ons twee uitstekende kundiges gehad wat ons kantoor kon ondersteun. Met hulle hulp, en die ondersteuning van die beheerraad, het ons kantoor begin floreer.”
‘Ons slaan nie meer net vure dood nie’
Vir ’n lang tyd het dit vir die span by Badisa Tulbagh gevoel asof hulle net vure doodslaan. “Ons het geen voorkomende werk gedoen nie, en dit was vir ons ’n groot bekommernis,” vertel Arendéne.
Ook in die afgelope twee jaar het daar ’n merkbare verandering op hierdie gebied plaasgevind. “Nou is ons op ’n plek waar ons voor die veldbrand is,” sê sy. “Ons maatskaplike werkers doen voorkomingsprogramme by skole en plase in die gemeenskap. Nou bied ons programme aan wat verhoudings versterk.”
’n Lig in die gemeenskap
Arendéne se geloof, haar liefde vir kinders en haar vermoë om mense saam te snoer, het Badisa Tulbagh deur sy swaarste tye gedra. Vandag is die kantoor nie net ’n plek van werk nie, maar ’n baken van hoop vir die hele gemeenskap. “Ons doen dit nie vir die erkenning nie,” sê sy. “Ons doen dit omdat ons glo in wat moontlik is wanneer mense omgee.”
Besoek Badisa Tulbagh se Facebook blad of kontak Karoline September by badisatulbagh@gmail.com om meer uit te vind of om ’n donasie te maak.
Skenk die volgende items aan Badisa Tulbagh:
- Kinderspeelgoed
- Kinderklere
