Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Daai boekies … dis ’n reuseverskil wat hulle in ons mense se lewens kom maak het. Dis goed waarvoor ons gebid het.” Só vertel Katherina Johnson, beter bekend as Suster Doekies. Sy en haar man, Abraham, kook vir die laaste 25 jaar elke week warm etes vanuit hulle eie huis vir honger kinders en werklose mense van Fisantekraal, ’n woongebied naby Durbanville, Kaapstad. Foto: Marko Beyleveld

Kyk: ‘Amper soos manna uit die hemel!’ – Bybel-Media deel byna 1 000 boeke uit by Kaapse sopkombuis

“Daai boekies … dis ’n reuseverskil wat hulle in ons mense se lewens kom maak het. Dis goed waarvoor ons gebid het.”

Só vertel Katherina Johnson, beter bekend as Suster Doekies. Sy en haar man, Abraham, kook hulle vir die laaste 25 jaar elke week warm etes vanuit hulle eie huis vir honger kinders en werklose mense van Fisantekraal, ’n woongebied naby Durbanville, Kaapstad. 

Elke Desember hou hulle ook ’n Kersete. Vanjaar op 10 Desember het twee plaaslike hulporganisasies met hulle hande kom vat. Team Flip, ’n plaaslike fietsrygroep het 1 000 etes geborg terwyl Adele Lombaard van Bybel-Media bokse vol boeke saamgebring het om uit te deel.

Dit het deel gevorm van hierdie Christelike organisasie van Wellington se jaarlikse Kinderkerskousprojek – ’n inisiatief wat aantreklike opbouende literatuur met ’n geestelike inslag uitdeel aan mense wat dit nie kan bekostig nie. Die doel hiermee is tweeledig. Maak goeie Christelike leesmateriaal toeganklik en help só om geletterdheid en leesvermoë te verbeter.

Dr Nico Simpson, Bybel-Media se uitvoerende hoof, verduidelik: “Ons Kinderkerskousprojek is ’n konkrete manier om lig in ’n gemeenskap te bring. Ons gee hierdie boeke omdat ons glo dat hulpmiddels vir geloofsvorming ’n lewe lank vrug dra, veral wanneer dit vroeg geplant word. Dit is vir ons belangrik dat elke kind toegang het tot stories van hoop, selfs waar hulpbronne skaars is”.

Vir die kinders was daar aktiwiteitsboeke en speelkaarte met ‘n Christelike inslag. Vir die tieners en grootmense was daar Bybelstudies en ook ’n paar Bybels. 

Katherina sê sy het nie woorde om te verduidelik hoe bly hulle oor die boeke is nie. “Dit is amper soos die Here manna uit die hemel gestuur het …” 

Sy vertel daar is nog sopkombuise in Fisantekraal maar hulle s’n is een van die grootstes. Drie dae per week staan 350-400, soms selfs 500 mense tou met ’n leë bakkie in die hand buite hulle huis. Katherina sê sy het al stowe stukkend gekook, maar sy en haar man glo vas die Here het hierdie sopkombuis as ’n voltydse bediening vir hulle gegee. 

Só kan jy Bybel-Media se Kinderkerskousprojek ondersteun: 

Betaal direk ’n donasie aan Bybel-Media (Kinderkerskous) by Absa bankrekeningnommer 4 0 5 1 1 8 1 6 9 9 (takkode 6 3 2 0 0 5) met as verwysing jou donateurnommer / selfoonnommer / e-posadres.

Besoek gerus www.bybelmedia.co.za vir meer inligting oor Bybel-Media se projekte en hoe jy betrokke kan raak.

 

Kerkbode is ’n publikasie van Bybel-Media

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top