Ek is nog steeds verbyster oor die onlangse dood van die gospelsanger en omroeper, Johnny Davids. Hy was net 49. En tog het hy soveel lewens geraak. Dit sien mens in die duisende reaksies en huldeblyke, ook op Kerkbode se Facebookblad.
Johnny het baie oor vergifnis geskryf in sy biografie Boytjie. Die boek het in 2024 verskyn en gaan oor sy swaarkry as jong seun op die Kaapse Vlakte.
Sy ma het hom by sy arm en dowe ouma gelos. Hier het hy gebly tot een dag toe hy besluit het hy het genoeg gehad. Met net sy Kersfeeshempie en sy skoolbroek aan het Johnny weggehardloop en die trein gevat na ’n beter lewe toe.
Baie jare later het hy op 24 teruggekom om sy ma en ouma op te soek. Hy skryf daaroor in sy boek. Sy ma het hom eers nie herken nie. Toe val sy flou neer en toe sy bykom is haar eerste woorde aan hom “ek dog jy is al dood”.
“Daai goeters het seer gemaak …” Só het Johnny my vertel toe ons einde 2024 vir Kerkbode Kollig ’n podsendingepisode saam opgeneem het. Ons was in die braaikamer van sy en Liezel, sy vrou se huis in Bothasig. In die agtergrond van die opname hoor mens soms die wind wat iets laat kraak het in die skoorsteen van hulle binnebraai.
Johnny het vertel hoe moeilik dit vir hom was om oor sy lewe op die Kaapse Vlakte te skryf. “Ek het ontdek daar is nog soveel opgesluite woede en haat en hartseer wat ek mee moes gaan gedeal het en dit het my kom vry maak …ek moes ’n keuse maak om hulle almal te vergewe,” het hy vertel.
Ons het ook gesels oor hoekom hy as jongseun gevoel het hy moet wegloop, sy pa se familie wat hom ’n kans vir ‘n beter lewe gegee het en hoe sy musiekloopbaan begin het. Luister gerus weer by die skakel bo.
Sy boek Boytjie is aanlyn te koop (R280) by Bybel-Media.
- Kerkbode word ook uitgegee deur Bybel-Media.