Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die NG Kerk se streeksinodes in die Oos-, Wes- en Noord-Kaapland vra dat mense hulle rampfondse ondersteun na erge storms groot skade in baie gemeenskappe aangerig het. Foto: Kouga Munisipaliteit Facebook

NG Kerk se rampfondse wil help: ‘Hart gaan uit na elke boer, werker en almal’

“My hart gaan regtig uit na elke boer, elke werker en almal wat geraak is.” So sê ds Joe Janse van Rensburg van die Oos-Kaaplandse Rampnetwerk, ’n NG Kerk-inisiatief wat laasjaar gestig is. Hulle het ook ’n rampfonds begin.

Groot dele van die land het erge storm- en vloedskade na onlangse stormweer wat met hoë reënval gepaard gegaan het. Die nasionale rampbestuursentrum het op Sondag 10 Mei ’n nasionale ramptoestand verklaar.

“Hier is baie skade. Dit is sleg om dit te sien,” laat weet Erika Ferreira vanaf hulle lemoenplaas in die Gamtoosvallei, een van die Oos-Kaapse biede wat groot skade gelei het. Ds Danie Mouton van die sinodale kantoor vertel selfs landboutoerusting en masjinerie wat na hoër grond verskuif is, het weggespoel. Oesskade is ook gely – “baie pampoene, mielies ens het op die strande uitgespoel,” voeg hy by.

Paaie en plase het ook verspoel in die Langkloof naby Oudtshoorn. Op Misgund het die wind laasweek ’n groot venster van die kerkgebou uitgewaai.

Vir die eerste keer in jare het sommige riviere oorstroom in dele van die Noord-Kaap sover as die Kalahari. “Die Kurumanrivier vloei regvoor (ds) Kobus (van Tonder) se huis (in Van Zylsrus) verby,” vertel ds Christo Jonck van NG Gemeente Harmonie op Kimberley. Hy voeg by dat die Kurumanrivier slegs na swaar reën loop en dit gebeur so min dat, wanneer die rivier, soos tans, die Moloporivier bereik, dit ‘n rare gebeurtenis is.

Die Oos-Kaapse streeksinode vra vir ondersteuning van hulle rampfonds na erge vloedskade in dele van hierdie streek. “Ons (vra) ondersteuning vir die geweldige skade wat die afgelope week danksy vloede in die Oos-Kaap aangerig is. Terwyl ons dankbaar is vir goeie reën wat opgaardamme gevul het, gaan ons hart uit na almal wat verliese gely het,” lui ’n plasing op die NG Kerk in Oos-Kaapland se Facebookblad.

Die NG Kerk in Wes-Kaapland en Noord-Kaapland het ook rampfondse. Vir meer inligting kontak: 

  • Wes-Kaapland: Ds Alex Clark van Diaconia se Ramphulpaksie by 083 492 5753 of stuur ’n e-pos na diaconia@kaapkerk.co.za
  • Noord-Kaapland: Ds Kobus van Tonder van Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap Rampfonds by 076 530 4028 of e-pos kobusvt04@gmail.com

 

* Berig aangepas na plasing.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top