Sokkies, ’n warm bed, ’n bord kos. Selfs ’n kruiwa vol vuurmaakhout. Dit is van die maniere waarop vanjaar se Winterhoop-veldtog duisende behoeftige mense se winter meer draaglik wil maak.
“Ons wil die hande en voete wees van Jesus en die gemeenskap dien …”. So vertel Leona Pienaar van MES vir RSG-omroeper Eloise Cupido. In hulle gesprek (webskakel onder) op 4 Junie het Pienaar meer vertel oor hierdie jaar se Winterhoop-veldtog en hoe mense hierdie landswye inisiatief kan ondersteun waardeur duisende sakke klere, komberse en etes elke Juniemaand vir 25 jaar versprei is. Dit sluit ook die oopmaak van noodskuilings tydens stormweer in.
Hierdie jaar word vuurmaakhout ook uitgedeel. Op Winterhoop se Facebookblad is vertel 160 gesinne naby Clarens in die Vrystaat is op hierdie manier gehelp. Dit is om die lewe makliker te maak vir meestal ouer vroue wie se daaglikse taak dit is om vuurmaakhout vir kos kook en warm bly bymekaar te maak.
Winterhoop se 2026-veldtog duur van 1-30 Junie. Vir meer inligting oor hulle vennote, versamelpunte, wie gehelp word en die projek se impak, besoek winterhoop.org
