Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat is die Bybelse argument vir of teen die erkenning van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? André Bartlett se standpunt.

Wysheid van die Enneagram ontgin sonder om rigied te wees

Van kettings tot keuses: Nege gesigte van menswees deur Savnola Goldridge en Jacques Engelbrecht

Uitgewer: Naledi, 2026

Resensent: Maartje van der Westhuizen

Van kettings tot keuses: Nege gesigte van menswees deur Savnola Goldridge en Jacques Engelbrecht gebruik die Enneagram as ’n lens waardeur menslike gedrag, selfkennis en persoonlike groei beter verstaan kan word. Hulle help lesers om bewus te word van die diepgewortelde patrone, vrese en motiverings wat hulle denke en optrede beïnvloed. Die skrywers se doel is nie bloot om persoonlikheidstipes te beskryf nie, maar om mense te begelei na groter vryheid, heelheid en bewustheid van hulle eie lewensreis.

 

Die sentrale tema van “kettings” en “keuses” vorm ’n sterk raamwerk waarbinne die leser uitgenooi word om beperkende patrone raak te sien en nuwe moontlikhede vir groei te ontdek.

’n Besonder sterk aspek van die boek is die gebruik van verhale, voorbeelde en herkenbare situasies, wat die inhoud prakties en maklik verstaanbaar maak. Goldridge en Engelbrecht slaag daarin om die Enneagram nie as ’n rigiede etiketteringstelsel aan te bied nie, maar eerder as ’n hulpmiddel wat selfontdekking en transformasie bevorder. Hulle raak op ’n eenvoudige en toeganklike wyse aan ’n wye verskeidenheid aspekte van die Enneagram, sonder om die leser met ingewikkelde terminologie te oorweldig. Hierdie werk is daarom geskik vir beginners, maar bied steeds genoeg inhoud om lesers met vorige blootstelling aan die Enneagram te boei.

’n Moontlike tekortkoming is dat die Enneagram-sketse meer aandag kon gee aan die beweging van elke tipe onder stres en die regressiepatrone wat daarmee saamhang. Hierdie aspek help mense dikwels om waarskuwingstekens in hulle eie gedrag vroeër raak te sien. Die fokus bly egter doelbewus prakties en vormend eerder as akademies of teoreties.

Van kettings tot keuses is ’n waardevolle Afrikaanse bydrae tot die groeiende Enneagram-literatuur. Dit bied betekenisvolle insigte oor menslike gedrag, verhoudings en geestelike groei, en moedig lesers aan om met groter selfbewustheid en vryheid te leef. Ek beveel dit sterk aan.

Beskikbaar by Naledi.


Ds Maartjie van der Westhuizen is predikant by die NG Kerk Elarduspark en ’n Enneagram konsultant.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Wysheid van die Enneagram ontgin sonder om rigied te wees”

  1. Dit is vir my verbasend, selfs skokkend, dat die Enneagram-literatuur aanbeveel word, dit terwyl sterk en welbekende hervormde, God-vresende, Skrif-getroue, Christus-gesentreerde predikers soos John MacArthur (oorlede), Paul Washer, Voddie Baucham (oorlede), John Piper, Justin Peters en vele ander (Ek is seker daar is ook op tuisbodem baie behoudende predikers ook), hulself ten sterkste daarteen uitspreek.

    Soos ek dit verstaan is van die redes wat aangevoer word dat die Enneagram onversoenbaar is met die Woord van God, dat dit gewortel is in die mistiek en die okkulte en dat dit in ooreenstemming is met Panenteïsme en “New Age”-oortuigings .

    Enigiemand kan die moeite doen en self daaroor gaan oplees en navors, maar ongelukkig maak die gemiddelde kerkganger gewoonlik nie erns met sulke dinge nie. Dit word eenvoudig ge-akkomodeer en aanvaar of dit is ‘n kwessie van “waai windjie waai”.

    Ek is verder absoluut daarvan oortuig dat ware identiteit, sonde diagnose en heiligmaking in die Woord van God en deur die werk van die Heilige Gees gevind en verseel word in Jesus Christus tot eer en verheerliking van God die Vader. Dit wil my voorkom asof die Enneagram die fokus verskuif van “HE (Christ) already did it” na “You can do it”.

  2. Andreas Rademeyer

    Die boekresensie op Kerkbode: “Wysheid van die Enneagram ontgin sonder om rigied te wees” (16 Julie 2026) verwys.

    Daar word gesê dat
    – die boek “gebruik die Enneagram as ‘n lens waardeur menslike gedrag, selfkennis en persoonlike groei beter verstaan kan word”
    – die outeurs van die boek “slaag daarin om die Enneagram” … “as ’n hulpmiddel wat selfontdekking en transformasie bevorder” aan te bied
    – die boek deel is van die “Enneagram-literatuur” en “bied betekenisvolle insigte oor menslike gedrag, verhoudings en geestelike groei, en moedig lesers aan om met groter selfbewustheid en vryheid te leef”

    Dit is lofwaardig om mense te wil help, beter hulself te verstaan en geestelik te laat groei.

    Daar moet egter onthou word dat die Enneagram nie ‘n betroubare lens is nie. Die Enneagram van persoonlikheid (9 persoonlikheidstipes of ‘enneatypes’), en die gepaardgaande bewegings en regressiepatrone is grootliks in die 20e eeu ontwikkel uit nie-Christelike bewegings en praktyke – sien ‘The Origins of the Enneagram – Marcia Montenegro’ ( https://youtu.be/k9Jo90cl7Io ).
    Die Enneagram word ook nie algemeen aanvaar as ‘n goed-gevalideerde persoonlikheidsmodel nie – sien ‘Is the Enneagram Scientific Progress or Regress?’ ( https://youtu.be/AJOyvUZcCDo ).

    Soos mens nie die geboortetekens van die Sodiak gebruik as lens waardeur menslike gedrag, selfkennis en persoonlike groei (veral geestelike groei) beter verstaan behoort te word nie, so moet eerder na die Woord van God geluister word.

  3. Louis Blignaut

    Enneagram ? Regtig ?Weet gelowiges wat die wortels is hiervan ? Daar is soveel ander soortgelyke instrumente wat op gesonde beginsels geskoei is. Bly liewers daarby !

Comments are closed.

Scroll to Top