Op 26 September is dit 200 jaar sedert die NG Gemeente Clanwilliam van Tulbagh-gemeente afgestig het. “Ons gemeente is vandag deel van ’n baie diverse geloofsgemeenskap waarin ons poog om deur sterk ekumeniese bande die gemeenskap te dien”. So vertel Jacques Greyling, wat sedert 2009 hier leraar is. Hy deel ook foto’s van hulle feestelike bestaansviering gehou van 19-20 September.
Clanwilliam se oorspronklike naam was Jan Disselsvlei. In 1726 het Jan Dissel van Rhenosterhoek daar gaan boer. Op 21 Januarie 1814 het Goewerneur Sir John Cradock Jan Disselsvlei na sy skoonpa, Graaf Clanwilliam vernoem. Op die datum het Clanwilliam ’n volwaardige landdrosdistrik geword. Dit word as die amptelike stigtingsdatum van Clanwilliam beskou.
Tot 1826 was die gemeenskap afhanklik van besoekende sendelinge vir hul geestelike bediening. Sendingwerk onder die inwoners is in 1816 begin deur eerw. Leopold Marquard. Weens die lang afstande het min mense die eredienste bygewoon. Tog was daar ’n begeerte na ’n eie gemeente en op 26 September 1826 het Clanwilliam van Tulbagh afgestig.
Die nuwe gemeente was groot en uitgestrek, weswaarts tot aan die see, met ’n kuslyn van 300 tot 400 kilometer tot by die Buffelsrivier, later tot by die Oranjerivier, wat die afstand tot 500 kilometer opgestoot het; noordwaarts tot op die rand van Boesmanland ooswaarts tot oor die Roggeveld en diep in die Hantamberge, dale, sandvlaktes en kaiingklip en plek-plek nagenoeg waterloos. As ’n mens daaraan dink dat die een gemeente vandag uit negentien gemeentes bestaan, waarvan sommige selfs vandag nog groot gebiede beslaan, dan sidder jy vir die klein kerkraadjie van Clanwilliam se part — so sonder herder vir nog byna ses jaar lank.
Op 26 Februarie 1832 is die Skotse predikant ds William Robertson (1832 – 1833) bevestig as die eerste volwaardige predikant op Clanwilliam. Later gedurende ds Charles Murray se bediening, 1858 -1865, is besluit om ’n groter kerkgebou op te rig. Die inwyding was op 30 April 1864. Die gebou staan vandag bekend as die Blomkerk waarin daar elke jaar tydens die blommeseisoen ’n pragtige Blomskou aangebied word.
Op 19 Julie 1952 wys ouderling H.S. v. Z. Visser die kerkraad daarop dat hierdie kerk ook te klein geword het, en die kerkraad besluit op 26 Maart 1955 na lang oorweging dat ’n nuwe kerkgebou gebou moes word. Die hoeksteenlegging van die nuwe kerk het op Saterdag 12 Oktober 1963 plaasgevind. Die jaar 1964 was vir Clanwilliam ’n jubeljaar, want benewens die inwyding van die nuwe kerkgebouekompleks was dit ook die vieringe van die 150 jarige bestaan van die dorp. Die gemeente se 150 jarige bestaan is in 1976 gevier.
Oor die iare heen was Clanwilliam-gemeente deur verskeie predikante bedien waarvan ek tot op hede die laaste was wat in 2009 beroep is. Ons is deel van ’n baie diverse geloofsgemeenskap in Clanwilliam waarin ons poog om deur sterk ekumeniese bande die gemeenskap te dien. Daar is maar altyd uitdagings binne die groter landbougemeenskap maar dit is juis in daardie tye van saamwerk en uitreik waarin ons besef hoe afhanklik ons van mekaar is. Ons kyk met verwagting vorentoe as ons die volgende hoofstuk aanpak in geloof en vertroue. In Samuel se woorde in 1 Samuel 7:12 “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.” Nou stap ons saam met Hom die toekoms tegemoet.
