Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Skrywer ry 36 000 km op die spoor van bekende kerkargitek se nalatenskap: Dominees, eiendomskommissies en kerkrade móét dié boek lees

Op die spoor van die kerkargitek Wynand H Louw deur Albert B Geldenhuys

Uitgewer: Naledi, 2026

Resensent: Jan Lubbe

 

In 2016 vertrek Albert Geldenhuys met sy vrou Maretha en ’n kamera op ’n reis deur Suid-Afrika. Méér presies: Agt “kerktoere”, 36 000 km en 160 kerkgeboue “Op die spoor van Kerkargitek Wynand H Louw”, sy oupa (1883-1967). 

Die skrywer noem sy oupa tereg “eerste Afrikaner-argitek”: Louw studeer af as eerste Afrikaanssprekende deur die Britse Argitek Assosiasie. Twee van sy ooms – di. Attie Louw en PGJ Meiring – was leiersfigure in die NG Kerk en hyself is intens betrokke by die Helpmekaar- en Pieter Neethlingfondse; tussen 1920 en 1950 was “kerkbou nasiebou”. In 1940 ontvang Louw dan ook die erepenning van die SA Akademie vir “Boukuns”. Sy kleinseun Albert se reis na binne en eergister, begin “toevallig” toe hul by familie in die Oos-Vrystaat verneem dat die NG Kerk Betlehem-Wes, wat hulle ’n dag tevore bewonder het, deur sy oupa WH Louw ontwerp is. Dit word ’n reis wat hul neem van die NG Kerk Strand tot die NG Kerk Pietersburg in die verre noorde; van Pofadder in Namakwaland tot Dundee in Natal. Ook na Gereformeerde Kerke wat deur Louw ontwerp is, soos Vryburg s’n en Reddersburg, én na “die sinagoge vir die Hebreeuse gemeente” in die Paarl (1919)! Gaandeweg begin Geldenhuys homself afvra: Hoe het sy oupa aan dié kerkgeboue wat hy ontwerp het, gedink? “Domus Dei” of “domus ecclesia”?

Die boek met ’n somerse foto van daardie Betlehem-Wes NG Kerk op die voorblad, vertel eers die verhaal van die Louw-familie en Wynand self. Die tweede deel gee ’n oorsig van die agt “kerktoere”, met foto’s van al die Louw-kerkontwerpe, en eindig met die veelseggende vraag: Quo vadis? Deel drie is ’n voëlvlug oor die geskiedenis van kerkbou, en dit is hier dat die teologiese vraag opduik: Is dit “huis van God” (soos die tempel in Jerusalem) of “huis van die gemeente” (plek van ontmoeting)? Geldenhuys kies laasgenoemde, maar nie sonder om oor die estetika, die “heiligheid en mistiek” in kerkargitektuur te skryf nie. Omdat hy nou, in ’n ander eeu, rondom soveel van die Louw-kerke varke en bokke in dorpstrate vol slaggate sien ronddwaal; die verval? Slapende haweloses op die kerktrappies. Dit is by die NG Kerk Boksburg – een van die eerste vyf Louw-kerke (1912) waaruit 60 ander gemeentes afgestig het (!) – dat Geldenhuys opteken: “Mens wonder tog of die dogters van die Moeder nie besorgd is oor haar nie?” En naby Loxton: “O dor en droewe land, jou tyd loop uit…”

“Op die spoor van Kerkargitek WH Louw” is ‘n lekkerlees reisverhaal met ’n goeie skeut genealogie, anekdotes en familieherinneringe ingemeng. Dit berus op uitgebreide bronnestudie én persoonlike indrukke regdeur die land. By soveel kerkgeboue was daar steeds tuiniers, kosters en orreliste wat trots die kerkhekke en -deure oopgesluit het! Wat die leser onvermydelik by die vraag oor die toekoms van die Louw-nalatenskap – ons NG Kerke, “die domus ecclesiae in soveel dorpe en buurte” – bring. Geldenhuys noem die opsies van gemeenskapsentrums en kerktoerisme (eerder as sloping!), maar kies tot slot ‘n gebed van sy oupa Wynand Louw: “Lei my voete… en dié van geslagte wat nog sal wees, op die pad wat lei na U land, na die koninkryk van God, reeds op hierdie aarde.” Dominees, Eiendomskommissies en Kerkrade moet dié boek lees.

Beskikbaar by Naledi.


Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top