“Musiek het die besondere vermoë om te praat wanneer woorde soms kortskiet. As een luisteraar ná ’n uitsending bietjie meer hoopvol, rustig, dankbaar of bewus van God se genade is, dan is ons op die regte koers.” So sê AJ Maree, ’n toegewyde musiekliefhebber, wiskunde-onderwyser en koordirigent wat vanaf Sondag 1 November 2026 RSG se immergewilde Sondagoggendprogram Loof die Here sal aanbied.
Die skuif dat Maree oorneem by die joernalis en voormalige RSG-stasiebestuurder Magdaleen Krüger is in ’n onlangse vrystelling bekendgemaak. Sy was vir sewe jaar die stem agter die Loof die Here-mikrofoon.
Die Loof die Here-program, wat sedert 1972 uitgesaai word, is een van RSG se oudste programme.
“Ek het groot respek vir die nalatenskap van die program en die mense wat dit oor die jare gevorm het. Luisteraars kan steeds uitsien na ’n uur van lofsang, rustigheid, besinning en inspirasie waarvoor hul harte warm klop, en ek sal my eie melodie hieraan toevoeg,” het Maree bygevoeg.
Gedurende Oktober, as ’n huldeblyk aan die ryke geskiedenis van die program, sal ’n keur van Loof die Heer programme deur voormalige aanbieders Fanie Smit en Wouter de Wet uitgesaai word. Dit vorm deel van die SAUK se viering van 90 jaar van bestaan.
