Die inspirerende Kanadese sanger-digter, liedjieskrywer en kitaarspeler Bruce Cockburn het oor dekades deel geword van Francois Mulder se geloofsreis, teologiese vorming en verstaan van musiek as draer van die Goeie Nuus. En nou, op Vrydag 16 Oktober, word Cockburn (81) se 39ste album wêreldwyd vrygestel.
Bruce Douglas Cockburn (uitgespreek Coburn) is op 27 Mei 1945 in Ottawa, Kanada, gebore. Hy het sy debuutalbum in 1970 uitgereik – een jaar ná my geboorte, die jaar waarna Bryan Adams dekades later in “Summer of ’69” sou terugverlang.
Kliek ook: Luister op Spotify
Kort nadat U2 se klankbaan-van-my-lewe album “The Joshua Tree” in 1987 uitgereik is, sing Bono op die opvolgalbum “Rattle and Hum” in die lied “God Part II” as volg:
“Heard a singer on the radio / Late last night / Says he’s gonna kick the darkness / Till it bleeds daylight. I, I believe in Love.”

Dit is natuurlik ’n aanhaling uit Bruce Cockburn se lied “Lovers in a Dangerous Time” vanaf sy 1984-album “Stealing Fire.” En só stel Bono my, as eerstejaar-teologiestudent aan Tukkies, bekend aan Kanada se besbewaarde geheim.
My uiteindelike skripsie in 1994, onder leiding van prof Piet Meiring in die destydse Sendingwetenskap-departement, het “Rockmusiek en Christelike getuienis” ondersoek, met ’n spesifieke fokus op U2 en Bruce Cockburn. Hulle artistieke geloofsworstelinge en aktivisme, gekenmerk deur ’n Jakobus 1:27-gesindheid, het my geïnspireer om die kunste lewenslank deel van my lewe, prediking en evangelisasie te maak.
Oriëntasie, disoriëntasie en reoriëntasie
Cockburn verwoord sy bekering in 1973 in die aangrypende lied “All the Diamonds”. Tot en met die album “Dancing in the Dragon’s Jaws” in 1979 besing hy sy geloof in verskeie liedere. Twee hoogtepunte uit dié era is sy 1976-lied “Lord of the Starfields” en “Festival of Friends” uit 1975, waarin hy sing: “Like an imitation of a good thing past / These days of darkness surely will not last / Jesus was here and He’s coming again / To lead us to His festival of friends.”
Vir dekades daarna, veral ontnugter met die Amerikaanse kerk se flirtasie met politieke mag, word hy ’n baie kritiese stem in sy musiek teenoor die kerk. In sy 1981-lied “Justice” vra hy: “What’s been done in the name of Jesus?” Die koorgedeelte tref hard: “Everybody loves to see justice done on somebody else.” In 1987 kritiseer hy in “Gospel of Bondage” ’n geloof wat in ideologie vasgevang raak, en vra: “When do we hear about forgiveness and love?” Gedurende dié tydperk is Cockburn se verhouding met die kerk beslis ongemaklik en gespanne. Sy “terugkeer” kerk toe verwoord hy in die 2017-lied “Forty Years in the Wilderness” op die album “Bone on Bone”. In ’n onderhoud vertel hy: “I’d started to identify myself as a Christian in the 1970s, and here I was, 40 years later, back in church.”
In ’n tyd van wêreldwye polarisasie word sy 2020-lied “Orders” ’n wekroep aan gelowiges om die liefdesopdrag teenoor alle mense uit te leef – ook teenoor jou “vyande” en dié van wie jy polities of andersins verskil: “The list is long – as I recall – our orders said to love them all.”

Cockburn-Cohen-Dylan
Cockburn is legendaries vir sy eklektiese vermenging deur die jare van musiekstyle soos folk, jazz, reggae, blues, gospel, rock en wêreldmusiek. Sy politieke, geestelike en omgewingsbewuste lirieke maak van hom ’n unieke, onvoorspelbare kunstenaar.
Cockburn word dikwels in dieselfde asem genoem as sy mede-Kanadees Leonard Cohen asook die Amerikaanse folkmusiek-ikoon Bob Dylan. Hierdie drie troebadoere verteenwoordig drie uiteenlopende maniere waarop die Bybel, geloof, twyfel, geregtigheid en poësie in populêre musiek neerslag vind.
Ek het in 2025 berig oor die Cohen-konferensie by die Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit (AMSS). Daar is na Cohen verwys as ’n soort moderne psalmis. Volgende week – 20-21 Oktober – is dit Dylan (en Taylor Swift) se beurt by die “Slow Train Coming” konferensie by die AMSS. Dylan gaan beslis ook as ’n soort moderne profeet getipeer word. En Cockburn? Beslis albei: ’n psalmis én ’n profeet!
Cohen en Cockburn is opvallend naby mekaar in geestelike diepte, Kanadese identiteit, lang loopbane en literêre gehalte. Cockburn se geestelike reis is egter anders. Sy musiek is baie meer eksplisiet gevorm deur sy Christelike geloof asook deur sosiale geregtigheid, oorlog, armoede, menseregte en die skepping. Die Kanadese goewerneur-generaal beskryf hom treffend as ’n hedendaagse rondreisende troebadoer wie se liedere die onvrede van die moderne samelewing weerspieël, maar waaruit ’n diepgewortelde Christelike geloof na vore kom. Waar Cohen dikwels vra: “Waar is God in die donkerte?”, vra Cockburn: “Wat doen God se mense aan die donkerte?”
In kommersiële terme staan Cockburn se albumverkope waarskynlik in die skadu van Cohen en Dylan, hoewel ongeveer nege miljoen albums oor ’n loopbaan enige verkoopsagent sou laat glimlag! Sy invloed, veral in Kanada en onder mede-kunstenaars wêreldwyd, kan egter nie aan verkoopsyfers gemeet word nie. Dertien Juno-toekennings (Kanada se ekwivalent vir die Grammy-toekennings), nege eredoktorsgrade en sy opname in die “Canadian Songwriters Hall of Fame” in 2017 getuig van ’n buitengewone loopbaan. Hy is ook in 1983 as ’n “Member of the Order of Canada” vereer en in 2003 tot “Officer” bevorder.
The Blood of Others
En nou in 2026, op 81-jarige ouderdom en 56 jaar ná sy debuutalbum, word sy 39ste album met 15 snitte wêreldwyd vrygestel. Dit wys opnuut op sy volgehoue en buitengewoon kreatiewe produktiwiteit. Album-vrystellingsdatum is Vrydag 16 Oktober.
Die album, getiteld “The Blood of Others”, is Cockburn se eerste album wat uitsluitlik uit vertolkings van ander kunstenaars se liedjies bestaan. Dit is ’n musikale kaart van die landskap waaruit sy eie werk gegroei het: gospel- en bluesplate waarna hy as kind in Ottawa geluister het, die folkklubs en koffiewinkels waar hy sy eie stem begin vind het, en die mense en ontmoetings wat sy musikale verbeelding gevorm het.
“The Blood of Others” begin met “Wish I Was in Heaven Sitting Down”, ’n gospel-lied van Robert Wilkins wat Cockburn die eerste keer op ’n versamelalbum in die vroeë sewentigerjare gehoor het. “Wilkins se kragtige bottelnek-kitaarspel en passievolle sang het hierdie gesprek met God onmiddellik onvergeetlik gemaak,” sê hy.
Dan volg “As Time Goes By”, die lied wat Herman Hupfeld geskryf het en wat vir altyd met die film “Casablanca” verbind sal wees. Cockburn het besluit om die oorspronklike inleiding (“preamble”) in te sluit, maar gevoel dat dit ’n eietydse opdatering nodig het. Daarom het hy nuwe lirieke daarvoor geskryf:
“This day and age we are living in, gives cause for apprehension. With infinite dimensions and robot interventions. But we’ve grown a little weary with AI and quantum theory. We must get down to earth again, relax, relieve the tension. No matter what the progress or what may yet be proved. The basic facts of life are such they cannot be removed.”
Elvis Presley se invloed is ook sterk teenwoordig op “The Blood of Others”, veral in “That’s Alright”. “Elvis Presley het die radio in Ottawa getref presies toe ek adolessensie bereik het,” sê Cockburn. “Hy was natuurlik ongelooflik charismaties, maar dit was veral die kitaarspel daarop van Scotty Moore – soms onstuimig en soms teer – wat in my ’n brandende begeerte aangewakker het om dié instrument te bespeel.”
Die emosionele kern van die album loop deur verskeie liedere wat met vormende persoonlike herinneringe verbind is. “God Bless the Child”, die bekende lied van Billie Holiday en Arthur Herzog, dateer uit Cockburn se tienerjare toe hy die plaat met sy sakgeld gekoop het. “’n Paar jaar later het ek Billie Holiday se oorspronklike weergawe gehoor,” sê hy. “Teologies ’n bietjie van die merk af, maar ’n diep ontroerende uitdrukking van teleurstelling in die menslike spesie.”
“Fare Thee Well” het sy eie verhaal wat die sirkel voltooi en Cockburn se vroegste musikale herinneringe verbind met ’n loopbaan-hoogtepunt dekades later. “Dit het weer by my opgekom toe ek dit saam met die McGarrigle-susters by Pete Seeger se negentigste verjaardagviering in New York kon uitvoer,” sê hy.
Ontdek die geheim
As jy deur hierdie artikel geprikkel is om na hierdie merkwaardige kunstenaar te luister en meer oor hom te lees, is hier ’n goeie begin: kry sy 2014-outobiografie, “Rumours of Glory”, in die hande en begin luister na sy album “Greatest Hits (1970-2020)”, wat op stromingsdienste beskikbaar is.
Sy liedere – veral “Lovers in a Dangerous Time”, “Wondering Where the Lions Are”, “If I Had a Rocket Launcher”, “Pacing the Cage” en “Last Night of the World” – bly belangrike bakens in die Kanadese liedjieskryfkuns. Sy liedere is opgeneem of uitgevoer deur uiteenlopende kunstenaars soos die Barenaked Ladies, Jimmy Buffett, Jerry Garcia, Anne Murray, Dan Fogelberg, Bonnie Raitt, k.d. lang en Crosby, Stills & Nash.
Sy kreatiewe nalatenskap het voortgegroei met sy vorige ateljee-album, “O Sun O Moon”, wat hy in Nashville saam met sy jarelange vervaardiger Colin Linden opgeneem het. “Time takes its toll, but in my soul I’m on a roll,” sing Cockburn op die album se openingsnit – ’n reël wat net sowel die rustelose nuuskierigheid agter “The Blood of Others” kon beskryf.
Ds Francois Mulder is al 32 jaar predikant, waarvan 20 jaar in Blancogemeente, George.

Ek het Francois Mulder se artikel ivm Cockburn se nuwe vrystelling opreg waardeer. Hy ken diè musiekgenre goed en gee puik oorsig van Cockburn se lewe en getuienis . Dit het my oortuig om die nuwe vrystelling te luister. Roerend en diep indringende lirieke uit ń hart ward sing van die anderse denke van God se kinders. Dankie Francois!