Ds Hardus van Niekerk (ondervoorsitter) en ds Maartje van der Westhuizen (voorsitter) is op Donderdag 15 Oktober, die eerste dag van die NG Kerk Oostelike Sinode se sinodevergadering, as hulle nuwe leierskap verkies. Annabelle Lombard berig sowat 186 afgevaardigdes uit ’n totaal van 199 was hiervoor saam by die NG Gemeente Pierre van Ryneveld in Pretoria. Foto’s: Heléne Meissenheimer
Die nuwe voorsitter is die eerste vrou en een van die jongste predikante nog om tot hierdie sinode se Sinodale Diensraad in hierdie amp verkies te word. Sy is van die NG Gemeente Elarduspark en dien ook tans as assessor op die Algemene Sinode Moderamen. Die ondervoorsitter is predikant van MIddelburg-Suid.

Dr Johan Botha (links bo) het in sy verwelkoming gesê hierdie sinode wil doelbewus anders verander. “Minder papierwerk en debat, meer luister en gebed,” het die uitvoerende amptenaar van hierdie streeksinode bygevoeg. “Ek sien uit na kosbare geestelike toerusting wat ons na ons gemeentes kan terugneem. Ek is opgewonde oor die manier waarop ons taakspanne, onder leiding van die Heilige Gees, saam oor die toekoms van ons diens aan gemeentes gaan nadink,” het hy gesê.
Dag een was geanker in twee Skrifgedeeltes: Johannes 13 en Handelinge 15 wat die uitdaag om ’n handdoek op die tafel op te tel as simbool van diensbaarheid, en te vra: Wie kan ek dien? Wat moet ek neerlê? Hoe kan my teenwoordigheid lewe bring? Begrip vir ander eerder as om self begryp te word – luister eerder as om gehoor te word. Is my siening vir my belangriker as die persoon oorkant my?

Hierna het die leierskapskrywer Hermann du Plessis ’n toerustingsessie aangebied met die onderwerp: “Die predikant as kultuurargitek”. Hy het met die beeld van hengelaars en forelplase verduidelik vis floreer in gesonde water. Net so is dit die predikant se verantwoordelikheid om ’n kultuur in sy gemeente te bevorder waarin lidmate veilig genoeg voel om kreatief te wees en eie inisiatief te neem. Hy het na lesse uit sy boeke oor intensionele leierskap verwys en elke leier uitgedaag om braaf genoeg te wees om so ’n omgewing te skep waarin mense kan floreer.

Wegbreeksessies deur die Taakspanne vir Jeug en gesinne, en Kommunikasie, het tafelgesprekke gestimuleer wat die kern van die kerk se roeping aanraak. Alles word gemeet binne die konteks van die sinode-tema “In die voetspore van Jesus”.

Tydens die Sinodalediensraad-verslag is gehoor hoeveel fokus daar was op opleiding en toerusting. Baie energie is belê in ringsdiensrade en kerkkantore. Daar is ook ’n nuwe sesde taakspan vir kleingemeentebediening bekendgestel.

Hierna is vir die eerste keer vir nuwe leierskap gestem met behulp van ’n selfoontoepassing. Na Maartje van der Westhuizen as nuwe voorsitter verkies is, het sy almal genooi om deel te neem aan die verspreiding van die evangelie. “Die Sinode bestaan nie net uit die dagbestuur of SDR nie, maar uit elke dominee en kerkraadslid,” het sy gesê.
Die aand het afsluit met lofprysing afgesluit, en groot dankbaarheid teenoor die Here vir die voorreg van saamwees.
