Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die sinode groet ds Paul Grobler wat na elf jaar lojale diens as predikant in sinodale diens aan die einde van Oktober emeriteer. Hy het as direkteur van die Noordelike Sinode ’n dinamiese impak op die Leef van hierdie sinode gehad. Sy gesin het by die vergadering aangesluit vir ’n afskeidseremonie. 

Noordelike Sinode: Taakspanne kyk na evangelisasie, ekologie + Paul Grobler gegroet 

Die NG gemeente Magaliesberg, wat later as die gemeente Rustenburg bekend geword het, is in Januarie 1850 gestig. Prof Johan van der Merwe, ’n kerkhistorikus en kerkregkenner, vertel dat hierdie kerkgebou vir drie jaar tydens die Anglo-Boereoorlog as hospitaal ingerig en gebruik is. ’n Ruimte vir aanbidding wat baie prakties ook ’n ruimte vir genesing geword het. So sal die roeping van die kerk altyd in dade uitgeleef word, anders bly dit slegs drome, skryf Nioma Venter op die laaste dag van die vergadering van Noordelike Sinode.  

 

Met die tema Droomdraers verskuif die fokus na die derde ritme van die week se program: Leef.

Die dag se taakspanverslae oor evangelisasie, diakonaat en ekologie het verskillende uitdrukkings van daadgerigte kerkwees belig. Saam met ’n paneelgesprek oor die relevansie van die kerk, het dit die vraag op die tafel geplaas hoe geloof sigbaar word in aksie.

Dit is presies die uitgangspunt waarmee die taakspan Evangelisasie werk. Dr Frikkie Coetzee lewer ’n sterk pleidooi dat evangelisasie geïntegreerd verstaan moet word. Die goeie nuus word beliggaam deur teenwoordig te wees, te dien, dade te doen en gesprekke aan te knoop. 

Die taakspan se aanbieding verbind evangelisasie ook met omvattende dissipelsmaking en die uitnodiging om Jesus as Here te volg. Dit vra dat die kerk haar getuienis nie vanuit ’n magsposisie of met vaste resepte benader nie, maar met ’n diensbare gesindheid, in aansluiting by mense se leefwêrelde. 

Hierdie verstaan verbind evangelisasie met barmhartigheid, versoening, geregtigheid, ekologie en pastoraat. Dit beteken dat die kerk se roeping en gestuurdheid nie tot ’n enkele aktiwiteit beperk kan word of in silo’s verdeel kan word nie. Die kerk se roeping raak die geheel van haar lewe en bediening.

Die groot vraag bly hoe om die goeie nuus van die evangelie sigbaar te maak vir mense wat nie vanselfsprekend deel van die kerk se lewe is nie?

’n Diakonale voetspoor wat saak maak

Die verslag oor diakonaat het die omvang van die NG Kerk se maatskaplike betrokkenheid in die Noordelike Sinode belig. Omvattende statistiek is gedeel, maar belangriker is dat agter al hierdie syfers mense met gesigte, name en stories staan – ook gemeenskappe wat met armoede, werkloosheid, gesinsprobleme, verslawing en ander maatskaplike uitdagings worstel. Die kerk bereik hierdie mense en gemeenskappe in samewerking met maatskaplike diensorganisasies en kerkinstellings. 

’n Oproep word in die vergadering gedoen dat gemeentes, ringe, sinodes en maatskaplike organisasies nie as afsonderlike wêrelde beskou moet word nie. Elkeen verteenwoordig verskillende gestaltes van die kerk se werk en dra elk op ’n eie manier tot haar dienswerk by. Die kerk se diakonale bediening kan soveel meer samehangend en doeltreffend wees en die impak soveel groter as ons samewerking na ’n nuwe vlak kan neem.    

Die skepping vra ook vir sorg

Die goeie nuus raak nie net mense se geestelike lewe of onmiddellike maatskaplike nood nie, maar ook die kerk se verhouding met die skepping. Prof Willie van Heerden van die Taakspan Ekologie verduidelik dat geloof in God as Skepper van die hemel en die aarde, die verantwoordelikheid meebring om vir die skepping te sorg net soos ons vir mense sorg. Die taakspan stel ’n praktiese kalender voor aan die hand waarvan die kerk met groter bewustheid en daadwerklike aksie kan leef. Die kalender stel byvoorbeeld voor dat daar jaarliks in die derde kwartaal (Julie tot September) op grond en plante gefokus word – daar is ander fokusse vir die ander kwartale. ’n Verskeidenheid aktiwiteite word voorgestel, soos om in hierdie tyd ’n boom te plant, kompos te maak, bewusmaking oor bedreigde spesies te doen. 

Oop gesprek oor kerk se Leef

’n Paneelgesprek met ’n verskeidenheid deelnemers verken ’n paar aannames oor kerkwees. Die paneel sluit ’n 80-jarige lidmaat en oud-inspekteur van skole, ’n 26-jarige predikant, ’n leraar wat al elders in Europa in ’n gemeente gedien het, en ’n paar ander in. Een van die paneellede, Jean Cooper (49 jaar), was glad nie deel van die vergadering nie en het net as ’n stem van buite by die gesprek aangesluit. Hy is ’n bedryfsielkundige en sakekonsultant, skrywer van die boek Waar die teerpad ophou, en ook ’n lidmaat van die NG Kerk. Hy het in 2023 saam met ’n vriend met motorfietse van Pretoria tot in Madrid, Spanje gereis en baie oor die lewe en veral ook oor geloof nagedink. In sy praktyk ontmoet hy daaglik mense wat met vrae oor die lewe worstel, maar hulle eerder tot kunsmatige intelligensie wend omdat hulle die oordeel van mense (en die kerk) vrees. Die kerk is nie vir hulle veilig nie. 

Daar is gepraat oor die spanning tussen identeit en relevansie. Dr Gerrie Bodenstein, predikant van die NG Gemeente Stellastraat, maak die punt dat daar soveel diepte in ons gereformeerde teologie is wat ons help om teks-en-konteks saam vas te hou. Dit behoort ons fokus te bly, nie kitsoplossings wat ons by ander, skynbaar ‘suksesvolle’ kerke sien nie. Hy sê ook dat dit nooit oorlewing is wat ons moet dryf nie, maar die diepte van ons Godsverstaan en ons vertroue in God. 

Een van die paneellede vertel van ’n veertienjarige dogter wat by geleentheid sê dat dit vir haar moeilik is om kerk toe te kom omdat die kerk nie praat oor die uitdagings waarmee sy en ander jonges soos sy worstel nie. 

Die vierde dag van die sinodesitting het die praktyk van kerkwees, die Leef van die kerk, vierkantig in die oë gekyk. Dit is die uitkoms waarvoor die Noordelike Sinode met die tema, Droomdraers gehoop het. Soos ds Lizl-Louise Schoeman tydens die erediens met die opening van die sinode gesê het: Die droom (vir die wêreld) behoort nie aan ons nie; dit behoort aan God. Ons is net die draers daarvan. Dit is nie ’n wenslys of ‘n abstrakte versugting nie, maar kry gestalte in hoe ons nou as kerk en gelowiges leef. Droomdraers, dissipels, navolgers van Jesus Christus, gestuurdes. 

Die sinode groet ds Paul Grobler wat na elf jaar lojale diens as predikant in sinodale diens aan die einde van Oktober emeriteer. Hy het as direkteur van die Noordelike Sinode ’n dinamiese impak op die Leef van hierdie sinode gehad. Sy gesin het by die vergadering aangesluit vir ’n afskeidseremonie. 


Dr Nioma Venter is ’n afgevaardigde en algemene sekretaris van die NG Kerk.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top