Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gemeentestories: Heilige koeie maak goeie wors

In die Kouga-omgewing waar ek woon, weet ons iets van koeie en goeie wors. Maar koeie kry jy nie net op ’n plaas nie. Soms loop daar ook ’n paar in die kerk rond! Ons noem hulle heilige koeie, vertel Joe Janse van Rensburg.

 

Heilige koeie is daardie gewoontes, tradisies en maniere van dinge doen waaraan ons vashou omdat dit is hoe ons dit nog altyd gedoen het. Dit is nie noodwendig sleg nie. Baie tradisies dra mooi herinneringe en het oor jare vir mense betekenis gekry. Maar soms raak ons so geheg aan die manier waarop ons dinge doen dat ons vergeet om te vra waarom ons dit doen.

Die vraag is nie of tradisie belangrik is nie. Die vraag is eerder: Wie is die Here van die kerk? Is dit ons tradisies, ons strukture en ons gewoontes, of is dit Jesus Christus?

 

DIE KUNS OM TE LUISTER EN TE VERNUWE

In ons gemeente het ons deur ’n luisterproses, onder begeleiding van dr Frederick Marais en Hugenote Kollege, weer besef hoe belangrik dit is om eers te luister voordat ons oplossings aanbied en besluite neem. Want wat vir die een na vernuwing lyk, kan vir iemand anders soos verlies voel.

Ons het byvoorbeeld die ruimte tussen die kerkgebou en die saal in ’n kuierplek omskep. Ná die erediens kan mense daar oor ’n koppie goeie koffie kuier en mekaar beter leer ken.

Een tannie was aanvanklik nie gelukkig daarmee nie. Sy het gevoel dit doen afbreuk aan die heiligheid van die kerk en het besluit om eerder elders kerk by te woon.

Later het sy egter ’n begrafnis in daardie ruimte bygewoon. Daar is koffie gedrink, stories vertel, gelag en gehuil. Dit het ’n plek geword waar mense mekaar in ’n moeilike tyd kon ondersteun. Toe haar eie man later daardie jaar oorlede is, het sy gevra dat sy lewe juis daar gevier word.

Die tannie weet dat ek hierdie verhaal deel, en ons gesels steeds gereeld daaroor. Sy woon intussen weer kerk by ons by. Ek deel dit met respek, want haar verhaal herinner my hoe belangrik dit is om na mekaar te luister.

Dit beteken nie elke verandering is noodwendig reg of dat elke beswaar verkeerd is nie. Dit herinner ons eerder dat ons mekaar se ervarings ernstig moet opneem. Soms ontdek ons eers met tyd dat iets wat aanvanklik vreemd gevoel het, tog ’n plek van betekenis kan word.

 

NIE ELKE NUWE HOED IS BETER NIE

By ’n konferensie het ek ’n uitspraak gehoor wat by my vasgesteek het: “Tradition is not wearing your grandfather’s hat. It’s buying a new one like he did.”

Tradisie beteken nie dat ons presies dieselfde hoed as ons oupa moet dra nie. Dit beteken eerder dat ons dieselfde bereidheid moet hê om ’n nuwe hoed te koop.

Dink maar aan ons oupas. Hulle moes aanpas by veranderende omstandighede. Hulle moes nuwe maniere vind om dinge te doen en soms weer van voor af probeer wanneer iets nie gewerk het nie.

Dit is wat ons veerkragtigheid noem: die vermoë om by nuwe omstandighede aan te pas, nuwe maniere te vind en weer te probeer sonder om moed op te gee of jou kernwaardes prys te gee.

Ons eer nie noodwendig die vorige geslag deur presies dieselfde keuses as hulle te maak nie. Ons eer hulle dalk juis deur dieselfde moed te hê om in ons eie tyd getrou te leef.

 

WIE IS DIE HERE VAN DIE KERK?

Die kerk word nie in die eerste plek vernuwe deur nuwe planne, programme of strukture nie. Dit begin wanneer ons weer vars na Jesus Christus kyk. Wanneer ons Hom opnuut raaksien, begin ons ook anders dink oor ons roeping en ons plek in die wêreld.

Ons programme, strukture en gewoontes het beslis waarde. Maar dit is nie die evangelie nie. Dit is hulpmiddels wat ons kan help om die evangelie uit te leef. En wanneer dit nie meer help nie, moet ons bereid wees om dit te heroorweeg.

Hoe nader ons aan Christus leef, hoe meer vrymoedigheid het ons om nuwe maniere te vind om sy liefde en genade in die wêreld uit te leef.

Dalk moet ons minder vra hoe ons mense in die kerkgebou kry en meer vra hoe ons as kerk by mense uitkom.

En ja, heilige koeie maak goeie wors. Maar ons moet nie elke koei slag bloot omdat sy oud is nie. Net so moet ons nie elke nuwe hoed koop bloot omdat hy nuut is nie.

Die evangelie bly dieselfde. Ons manier van kerkwees hoef nie.


Ds Joe Janse van Rensburg is gemeenteleier: NG Gemeente Jeffreysbaai.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.