Lede van die NG Kerk se Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (ATLAS) het ‘n webskakel gedeel na ‘n nuwe hulpbron wat lesers wil lei na belangrike sinodebesluite. Kliek hier: https://ngkerk.org.za/vraagenantwoord/
ATLAS beskryf die beskikbaarstelling van hierdie Vraag-en-Antwoord-styl hulpbron op die Algemene Sinode se webtuiste as ‘n projek waaroor hulle baie opgewonde is. “Daar word deur die notule van die Algemene Sinode van(af) 1962 gegaan en relevante en belangrike besluite word geïdentifiseer,” luidens die ATLAS-verslag wat einde Oktober by die vergadering van die Algemene Sinode Moderamen in Gauteng bespreek is. ’n Voorlopige lys van onderwerpe wat beskikbaar gestel gaan word, is:
- Die bose, duiwel
- Reproduktiewe gesondheid en aborsie
- Die gesag van die Skrif
- Menslike seksualiteit
- Verhouding met ander godsdienste
- Ons ekumeniese verhoudings
- Die verhouding tussen kerk en staat
- Die rol en aard van die belydenisskrifte
- Inhoud van die geloof (byvoorbeeld Apostolicum/So Glo Ons – Opstanding,Maagdelike geboorte, Werk van die Gees)
- Sakramente – Doopbeskouing/Nagmaal
Die verslag verskaf toeligting tot wat reeds op die webblad verskyn: “Die beplanning is om ’n blad te hê waarop die lys van onderwerpe verskyn wat gereeld opgedateer kan word. Die onderwerpe neem jou na ’n volgende blad waar daar ’n kort opsomming van die saak gegee word. Onder die opsomming word die verloop van die besluitneming weergegee sowel as die mees onlangse besluit. Die historiese besluitnemingsproses sal help om te verstaan hoe ’n saak ontwikkel het deur die jare.”
Lede van die ASM het kennis geneem van die vordering en vir dr Pieter van der Walt, wat verantwoordelik is vir die projek, vir sy werk bedank.
ATLAS word saamgestel uit afgevaardigdes van die 9 sinodes. Die Dagbestuur bestaan uit die volgende lede: Voorsitter: Christo Benadè; Ondervoorsitter: Sarel Marais; Add. Lid Bernice Serfontein.
