Die NG Kerk gaan voor 10 November ‘n buitengewone algemene sinode hou waar daar weer indringend gepraat gaan word oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.
Dit is deur die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) besluit tydens sy vergadering in Kempton Park.
Die ASM het ook die opskorting van die besluite van die vorige Algemene Sinode teruggetrek.
Die besluite is geneem na ‘n lang debat in die ASM en te midde van diep verdeeldheid binne die kerk.
Aan die een kant is daar lidmate wat baie ontsteld is oor die Algemene Sinode se goedkeuring van gay verbintenisse in 2015. Meer as 20 appèlle teen die besluite is ontvang. Die ASM het ook in November 2015 die advies aanvaar van die Algemene Taakspan Regte (ATR) dat die appèlle outomaties die uitvoering van die besluite opskort.
Aan die ander kant is daar mense wat ontsteld is oor die opskorting van die besluite. Elf lidmate het in ‘n prokureursbrief gedreig om hof toe te gaan as die opskorting nie opgehef word nie. Hulle het ‘n regsadvies van adv Wim Trengove aangeheg wat sê dat die kerkorde nie appèlle teen besluite van die Algemene Sinode toelaat nie. Verder voer hy ook aan dat die opskorting van die besluite verkeerd is.
Dr André Bartlett van Hoëveld Sinode en dr Carin van Schalkwyk van die Vrystaat het ook revisie gevra van die besluit oor die opskorting van die besluite. Ook hulle het ‘n regsadvies aangeheg wat sê appèlle teen besluite van die Algemene Sinode is nie moontlik nie en dat die opskorting van die besluite onregmatig is.
By die ASM se vergadering het dit boonop aan die lig gekom dat ‘n regsadvies wat die ATR self ingewin het, dieselfde bevind.
Van die ASM-lede was bekommerd dat die opheffing van die opskorting sou lei tot verleentheid vir die kerk as ‘n persoon in ‘n gay verbintenis byvoorbeeld tot predikant georden word en die besluite dan later omgekeer word as van die besware teen die besluite gehandhaaf word.
Na ‘n lang debat is daar besluit om die opskorting te herroep. Dit beteken die besluite wat die Algemene Sinode geneem het, geld weer volledig.
Daarmee saam is daar ook besluit om gou ‘n buitengewone algemene sinode byeen te roep om onder meer na al die besware teen die vorige Algemene Sinode se besluite te kyk.
In praktyk beteken dit dat die besware aangehoor sal word voordat daar veel kans is om van die besluite uit te voer. Daar is byvoorbeeld ‘n lang administratiewe proses nodig vir dominees om van die regering toestemming te kry om gay verbintenisse te bevestig. Dit sal nie gedoen kan word voor die buitengewone algemene sinode nie.
Meer besonderhede oor die buitengewone algemene sinode, soos die presiese datum, plek en die inhoud van die agenda moet nog bepaal word. Dis ook nog nie duidelik of appèlle teen die besluite toegelaat sal word en of besware in die vorm van beswaarskrifte voor die sinode sal moet dien nie.
