Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Marie van Nierop skryf:
Kan iemand asseblief aan my verduidelik hoekom (gelowige) gay mense uitgelig word bo die baie sondes wat in die Bybel genoem word? Wat maak dinge soos gierigheid, dronkenskap en egbreuk minder verkeerd en meer aanvaarbaar? Wat van dinge soos kinderverkragting, vrouemishandeling, pornografiemakery – veragtelike dinge waaroor nie ’n woord pertinent in die Bybel genoem word nie? Jesus het nooit iets oor homoseksualiteit gesê nie. Wat Hy wel gesê het, is “Moenie oordeel nie.”
JW Esterhuysen van Riversdal skryf:
Die Algemene Sinode se besluit oor homoseksualiteit is vir ons gelowiges net skokkend. Het hulle regtig nugter gedink, of was dit ’n paar hooggeleerde teoloë se eie siening wat moes seëvier? Wat moet ons as gelowiges met hierdie besluit maak? As sewe sulke duidelike uitsprake in die Bybel “uitgevee” moet word, wat bly dan oor waaroor nie getwyfel word nie?
Bert Bouwers van Kemptonpark-Oos skryf:
Prof Andrie du Toit (Kerkbode, 4 Desember 2015) beskuldig ander broers dat hulle Romeine 1 “ernstig misbruik”. Maar broer, wat van u artikel? U misbruik Romeine 1:22 valslik deur dit terug te plaas in die ou tyd, waar ons as lidmate glad nie van hou nie, ons leef vandag en nie gister nie. God sê vir ons in Romeine 1:32 baie eenvoudig, sonder om doekies om te draai, wat aangaan.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
