Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In 2014 het die rolprent Frozen menige kinders, selfs volwassenes, in vervoering gehad. Prinsesse Anna en Elsa moes by vele verjaarsdagpartytjies gaan inloer. Die sprokiesagtige idee van Frozen hang steeds vandag in die lug. Maar in 2015 het die idee van frozen ’n totaal nuwe werklikheid binne die NG Kerk geword. Einde 2015 word die besluit gevries wat lidmate in selfdegeslag-verhoudinge binne die NG Kerk verwelkom. Hiermee breek die seisoen van gevries wees aan. Die vraag op almal se lippe vir 2016 – waarheen nóú?
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/01/Jacobie-M-Helena-1.jpg” caption=”Jacobie M Helena is ’n teologiestudent wat haar gemeentejaar in die NG gemeente Worcester-Vallei doen.” align=”right” width=”270px”]
Die uitdaging vir predikante en lidmate van die NG Kerk vir 2016 is om nie gevries te bly nie. As kerk en liggaam van Christus kan ons nie vir twee jaar gevries bly nie. Dit is belangrik om steeds te bly worstel en saam in gemeentes ’n pad te stap. Ons is al van 1986 besig om amptelik te ontdooi, maar nie op grondvlak nie. In ’n gebroke land, kan ons nie meer as kerk op grondvlak gevries bly nie.
In die Ou Testament lees ons van God wat sy teenwoordigheid aan Moses deur ’n brandende bos openbaar maak. God is in dié seisoen van gevries wees ook teenwoordig. Verder stuur God ’n vuurkolom om die Israeliete in die wildernis te lei. God se teenwoordigheid en leiding word duidelik op kragtige maniere deur vuur in die Ou Testament uitgebeeld.
Jesus bid nie vuur af op die koppe van sondaars, tollenaars en prostitute – die destydse gemarginaliseerdes van die samelewing nie (Luk 12:49-53) – maar sy hart ontbrand met liefde vir hulle dwarsdeur sy bediening.
In Handelinge 2:3 lees ons dat die mense met ’n vuur-verskynsel deur die Heilige Gees vervul is. Mense het met hierdie openbaring van die Heilige Gees in ánder tale begin praat. Mag die Heilige Gees ’n krag wees wat ons as gelowiges die wysheid gee om te weet dat andersheid nie verkeerd is nie. Mag ons eerder saam-saam mekaar se andersheid leer ken en mekaar daarvoor begin liefhê.
Die aanhaling van Shane Claiborne verwoord dit goed: “And I think that’s what our world is desperately in need of – lovers, people who are building deep, genuine relationships with fellow strugglers along the way, and who actually know the faces of the people behind the issues they are concerned about”.
Mag 2016 ’n jaar wees waar ons nie meer tevrede sal wees om frozen te bly nie, maar deurlopend sáám binne ’n koue seisoen te bly soek na die God van vuur.