Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Dit is altyd vir my interessant om op die Bybel-app YouVersion te kyk watter verse in die Bybel die afgelope jaar die meeste gelees of gedeel is.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/02/Nico-Smit3.jpg” caption=”Nico Smit is ʼn teologiestudent wat vanjaar sy gemeentejaar by die NG gemeente Lynnwoodrif doen.” align=”right” width=”270px”]
Daarmee in my agterkop, het ek begin om elke jaar ’n teks wat my getref het, uit te soek. Ek vra dan vir die Here om my te lei in die keuse. Ek gaan gereeld gedurende die jaar terug na dié spesifieke teks om my te herinner waarmee ek besig is.
My teks vir 2015 was slegs een vers, Sagaria 4:10: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.”
Ons wonder dikwels of die dinge waarmee ons besig is werklike sin het en dan oor die vervlietende aard van die lewe. Die vers het my deurgaans daarvan bewus gemaak dat klein dingetjies op die ou end ’n reuse-verskil kan maak.
Vir 2016 het die Here vir my dié teks uitgewys, in besonder Psalm 62:6 (OAV): “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!”.
Die verhaal van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, is vir my ’n besondere inspirasie en sluit na my mening by Psalm 62 aan. Sy wil aan die Meester se kleed raak, maar sy doen dit vir seker stil en versigtig. Slegs met een of twee vingers – met verwagting – raak sy aan dié kleed en sy word gesond. Die kern van die verhaal is vir my dat sy na Jesus toe gegaan het.
En só wil ek ook die toekoms van die Kerk sien: Ons moet na Jesus toe gaan.
En deesdae, veral, sien ek hoe baie gemeentes die evangelie lewendig maak en dit uitleef! Jesus word nie net verkondig nie. Jesus word ’n “werk”-woord. Al is dit in klein dingetjies en al word dit soms in stilte gedoen sonder dat die wêreld eens daarvan bewus is.
Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, wys vir ons uit dat klein handelinge, soos om aan die soom van die Messias te raak, groot verskille teweegbring. Daarom die vers in Matteus 11:28: “Kom na My toe”.
By die Messias is daar hoop en vrede – ’n groot toekoms vir die Kerk.
Op my boekrak staan ’n boek van wyle Izak de Villiers, Te vroeg vir moedverloor. Ek sien die kerk ook so: Dit is altyd te vroeg om moed te verloor.God se Gees bring vir ons die verwagting, die wete, dat ons voort kan gaan, soms stil en soms in klein dingetjies – maar dat Hy, as Drie-eenheid ons bystaan. Wat ’n voorreg en seën!