Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Liefde of gramskap

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Koot Bosman van Pretoria skryf:

Beide Piet Otto en André Bartlett se sieninge oor homoseksuele verhoudinge weerspieël vertolkings van geldige Bybelsgefundeerde standpunte.

Eersgenoemde is die sterk, fundamentele en letterlike vertolking van wat die Bybel se weergawe van God se streng verwagtinge oor homoseksualiteit sou wees.

Die ander beskouing plaas die eersgenoemde siening binne die raamwerk van die allesomvattende Goddelike liefdesbeginsel soos God menseverhoudinge en die bestaan van die hele skepping in die Jesusverhaal uitdruk.

Binne die ruimte van hierdie twee beskouinge moet die gelowige ’n standpunt inneem oor mense en hulle verhoudinge met mekaar, ook oor diegene in wie God dit goed gedink het om ’n ander as gebruiklike seksuele georiënteerdheid in te bed. Dié mense het nie daarom gevra nie, hulle is so gebore. Andersins is hulle as mense soos alle ander “normale” mense deel van God se skepping. 

Volgens Otto moet dié mense skynbaar Bybels ver­doem word. Volgens Bartlett moet hulle na die liefdesvoorbeeld van Jesus verdra en aanvaar word. 

As gebore heteroseksueel het my ouers, die skool en kerk my geleer om binne God se genade volgens aanvaarbare norme te lewe. Dieselfde het gebeur met ’n homoseksuele kennis. Beide van ons probeer die norme ook uitleef binne ons eiesoortige huwelike. Jesus vergewe Johannes 8 se owerspelige vrou haar (aanvaarde) seksuele vergrype, maar ek moet uit Otto se siening aflei dat die homoseksuele se Goddelik-aangebore (-bedoelde?) menswees as boos verdoem moet word. 

Bartlett sien God se liefdesvergifnis in die Jesusfiguur raak, Otto skynbaar slegs God se gramskap oor sy eie bedoelde skepping. 

My besluit is voor die hand liggend, want ek glo ooreenkomstig Jesus se liefdesboodskap ten opsigte van God se totale skepping.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top