Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sabbath as resistance

Nee vir die gejaagdheid

SABBATH AS RESISTANCE
Saying NO to the culture of NOW
deur Walter Brueggemann


Die wêreld waarin ons leef snel voort teen ’n al groter spoed. Ek voel gereeld al hoe meer gejaagd en ek voel voortdurend asof ek al hoe meer agter raak. Daar is die heeltyd meer om te doen, en minder tyd om dit in te doen. Erger nog, ek voel toenemend uitgelewer aan die samelewingskragte wat té groot en té sterk is om teë te gaan. Hoe kan ek ontsnap?

Walter Brueggemann het my gehelp om te verstaan dat hierdie nie ’n unieke ervaring is nie. In sy boek, Sabbath as resistance, gebruik hy die Eksodustradisie om te wys dat ons huidige kultuurwaardes ooreenstem met die ervaring van die Israeliete in Egipte.

Die farao het van die Israeliete al hoe meer en meer werk verwag, met minder tyd om dit in te doen, alles ter wille van die opgaar van rykdom. Brueggemann wys hoe ons hedendaagse ekonomiese model met die klem op (onvolhoubare) groei dieselfde met ons maak. Ons bevind ons terug in Egipte. Ons is weer onder die juk van die Mark, wat ons slawe maak van verbruik en in die proses ons meer gejaagd en ongelukkig maak.

Die Israeliete is uiteindelik weggeneem van hierdie onderdrukkende leefwyse deur God, wat hulle uit die “plek van slawerny” bevry het, en vir hulle ’n alternatiewe leefwyse voorgehou het. In die Eksodustradisie word die Dekaloog as’t ware die grondwet vir die lewe saam met God. En die mees uitgebreide gebod? Die vierde gebod oor die sabbat. Daarmee word die Israeliete gehelp om ’n bewustheid van sakrale tyd aan te leer, om so weerstand te bied teen gejaagdheid.

Christene is soms allergies vir gesprekke oor die sabbat, moontlik omdat ons bang is vir wettiese moralisme. Daarmee gooi ons die baba saam met die badwater uit. Hierdie boek bied ’n herwaardering van geloofstradisies soos die sabbat, wat myns insiens ons help om as Christene weerstand te bied teen die kultuurkragte wat ons laat voel asof ons op ’n wegholtrein is.

▶Ds Fouché de Wet is predikant van die NG gemeente Suidoos-Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top