As ’n mens die Bybel onder leiding van die Heilige Gees lees, kan jy nie net sewe tekste isoleer en navors nie. Die hele boodskap van die Skrif “moet ons hart deurdring en ons gees en gedagtes vernuwe”.
So het dr Danie Malan van die NG gemeente Kempton-Kruin gesê op die konferensie oor verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag wat deur Excelsus en Coram Deo in Pretoria gehou is.
Malan het gepraat oor hoe die Bybel in die debat gebruik word en sy boodskap was helder: Deurlopend praat die Bybel van man en vrou. Nêrens word daar ruimte gemaak vir verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag nie, al was dit ’n bekende verskynsel in die destydse wêreld.
“Paulus meld uitdruklik dat elke man sy eie vrou, en elke vrou haar eie man moet hê. Die enigste alternatief wat hy uitwys, is enkelinge wat al hulle aandag daaraan kan gee om die Here te behaag en sy werk te doen,” het Malan gesê.
Hy het die Nuwe-Testamentikus NT Wright soos volg aangehaal: “Die punt van Romeine 1 as geheel is dat wanneer mense weier om God te eer, die God na wie se beeld hulle gevorm is, gaan hulle menswees in selfvernietigende modus, en Paulus is oortuig dat manne wat saam met manne seks beoefen en vroue saam met vroue, ’n vorm van menslike dekonstruksie is.”
Die sterk etiese eise van Romeine 6, 8 en 12 is ingebed in Romeine 1 en Genesis 1 en benadruk sy oortuiging dat sulke verhoudings verontmenslikend en degraderend is.
Sy konklusie is dat die uitsprake wat Paulus maak, vir alle selfdegeslagverhoudinge geld, en nie net vir tempelprostitusie of verkragting nie.
Die hele agtergrond van Romeine 1 is volgens hom Genesis 1: die twee mense wat as man en vrou gesamentlik God se beeld uitmaak.
Malan het ook gesê dat nie een voorskrif in die Bybel selfdegeslagverhoudinge goedkeur nie, en al was dit baie algemeen in hulle families en vriendekringe, is daar geen praktiese voorskrifte vir mense in selfdegeslagverhoudinge nie. Daar is talle oor verhoudinge tussen mans en vroue. “Waarom?” het Malan gevra.
Hy het ook verwys na Matteus 19, waar Jesus in die debat oor egskeiding betrek word.
Malan het gesê Jesus vat hulle terug na die Skrifte toe: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?”
Die Skrif maak God se wil bekend vir alle mense en alle tye. Nie mense se nuwe idees of ontdekkings nie, maar die Skrif alleen gee die beginsel, het Malan gesê.
