Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Michael Pepper aan die woord. Foto: Neels Jackson

Seksualiteit het baie kante

Die siening dat heteroseksualiteit die norm is, is beslis nie wat in die realiteit gebeur nie.

So het prof Michael Pepper van die Universiteit van Pretoria se fakulteit gesondheidswetenskappe gesê by Excelsus en Coram Deo se konferensie oor selfdegeslagverbintenisse. Pepper is ook direkteur van die Instituut vir Sellulêre en Molekulêre Geneeskunde.

Pepper het verduidelik dat geslag ’n ingewikkelde kwessie is met verskillende aspekte wat in verskillende kombinasies kan voorkom.

Een aspek daarvan is ’n mens se fisiese geslagskenmerke. Dit kan manlik of vroulik wees, of in interseks­persone kan dit ’n kombinasie van die twee wees. Vroeër is daar kort na geboorte van sulke interseksbabatjies besluit om die kind se organe na óf manlik óf vroulik te verander, maar dan het dit soms later geblyk dat die verkeerde keuse gedoen is.

’n Tweede aspek van ’n persoon se geslag is sielkundige geslag, dit wat ’n persoon voel hy of sy is. Waar die fisiese geslag in die eerste drie maande van ’n swangerskap bepaal word, word die sielkundige geslag in die tweede drie maande bepaal.

Waar die sielkundige geslag van die fisiese geslag van ’n persoon verskil, word gepraat van ’n transseksuele persoon. Dit is byvoorbeeld ’n mens met ’n manlike liggaam, maar wat voel dat sy ’n vrou is. In die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria sien Pepper-hulle gemiddeld tien transseksuele mense per maand.

’n Derde aspek van geslag is ’n persoon se oriëntasie. Dit bepaal tot watter geslag so ’n persoon aangetrokke voel. Pepper sê in die meeste bevolkings is sowat 5% van mense aangetrokke tot dieselfde geslag, maar daar is ook aseksuele mense wat tot geen ander geslag aangetrokke voel nie en biseksuele mense wat tot albei ander geslagte aangetrokke kan voel.

Pepper het gesê hulle het geen idee wat veroorsaak aangetrokkenheid na die ander geslag nie.

Hy het verwys na twee studies wat ’n moontlike verband aandui tussen homoseksualiteit en areas op die X-chromosoom en chromosoom 8.

Volgens Pepper is daar geen oortuigende getuienis wat ’n verband tussen ’n kind se gesinsomgewing of die ervarings as kind en seksuele oriëntasie aandui nie.

Daar is ook geen getuienis dat oriëntasie aansteeklik is nie.

Hy het ook verwys na epigenetika, wat bepaal of sekere genetiese kenmerke ontwikkel of nie.

Pepper het gesê in die diereryk is homoseksuele gedrag algemeen. Dit is al in 1 500 spesies aangeteken. Hy het verwys na skape waar 10% van ramme glad nie met ooie wil paar nie, maar geredelik met ander ramme paar.

As jy nie verantwoordelik is vir jou seksuele oriëntasie nie, het Pepper gevra, het ons die reg om teen jou te diskrimineer?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top