Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jat du Toit van Noordbrug skryf:
Johannes 8:1-11 is die afgelope tyd baie gebruik om Jesus se liefde en vergifnis te beklemtoon. Soos ook dikwels die afgelope tyd gesê is, is dit ook belangrik dat die gedeelte in die eerste plek in sy historiese en kulturele konteks gelees word.
Die Fariseërs probeer om Jesus hier tussen twee vure te plaas. Aan die een kant die Romeinse wet wat die Jode nie toelaat om iemand ter dood te veroordeel nie en aan die ander kant die wet van Moses wat bepaal dat mense wat owerspel pleeg gestenig moet word. Hierdie is dus in die eerste plek ’n juridiese aangeleentheid (regsaak).
Hoewel Jesus dit nie uitwys nie, is die eerste fout in die saak die feit dat die man wat betrokke was in die owerspel nie daar was nie. Die wet van Moses het die man primêr verantwoordelik gehou, saam met die vrou, vir dié oortreding.
Nadat Jesus die Fariseërs en die omstanders se gewete aangespreek het, het Hy neergebuig en in die stof geskryf met sy vinger. Daarmee het Hy aan hulle gesê dat Hy die betrokke wet bepaal het en aan Moses gegee het.
Nadat die Fariseërs en die omstanders een vir een weggesluip het, het dit beteken dat daar geen getuies oor was om die vrou aan te kla nie. Volgens die bepalinge van die wet moes die saak uitgegooi word en die vrou vrygespreek word.
Jesus weet egter alles van die vrou (soos ook die vrou van Samaria in Joh 4) en daarom sê Hy aan haar dat sy nie meer moet sondig nie, dus nie voortgaan met haar owerspelige lewe of optrede nie. Jesus keur dus geensins haar owerspelige lewe goed nie.
Soos dikwels ook al gesê moet daar versigtig omgegaan word met die gebruik van ’n teksgedeelte en die toepassing daarvan.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
