Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die Wingerdstok

Wanneer Jesus in Johannes 15 verklaar dat Hy die ware wingerdstok is en dat sy volgelinge die lote is, sien ons iets van die missionale teologie daarin raak.

Die lote is geanker in die wingerdstok, maar nie ter wille van die lote self nie. Dít wat die lote uit die win­gerdstok kry, moet deur die lote vloei en vrug word. So is gelowiges in Christus geanker nie net ter wille van hulself nie, maar sodat hulle in hierdie wêreld vrug kan dra.

In ’n gemeenskap wat gebuk gaan onder rassespanning en verdeeldheid, onder meer op universiteitskampusse, is dit vir gelowiges nogal ’n uitdaging. Die versoeking is groot om terug te baklei, om onreg te wreek, om jouself te handhaaf. Sulke reaksies kom instinktief.

Ongelukkig gebeur dit dikwels dat sulke reaksies die situasie vererger, dat dit die klowe laat verdiep. Dan word  ’n siek situasie nog sieker.

Die uitdaging aan gelowiges is om juis in sulke situasies steeds vrug te dra, vrug soos die vrede, vriendelikheid en geduld waarvan Galasiërs 5:22 praat, en dan daarby liefde en vreugde, nederigheid en selfbeheersing.

Pleks van die klowe te verdiep, is daar maniere om die klowe te oorbrug, soos wat die gelowiges van Athlone en Pinelands gedoen het. Daarvan vertel die berig op bladsy 3.

Op bladsy 12 en 13 is daar die verhaal van die koinonia-maaltydgroepies wat nou in Worcester aan versoe­ning werk nadat dit meer as 30 jaar tevore in die Pretoriase township Mamelodi begin is. Dit is ’n eenvoudige manier om daadwerklik aan die toekoms te bou.

Ook die brokkie op bl 7 oor studente van verskillende rasse wat saam op die Tukkiekampus gebid het, terwyl ander groepe handgemeen geraak het. Is daar ’n beter manier om die alternatiewe leefstyl van Christene te demonstreer as wanneer wit en swart hande mekaar letterlik vashou om saam te bid?

Voeg daarby die ander verhale in hierdie Kerkbode van gelowiges wat helend betrokke is in hulle omgewings, dan word dit duidelik hoe die vrug lyk van die lote wat in die Wingerdstok geanker is.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top