Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Paasfees

”Die Heer het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan!”

Die graf is leeg. Die Here lewe.

So bely die kerk deur die eeue en so bely ons ook opnuut in hierdie Paastyd.

Oor die historiese feitelikheid van hierdie opstanding wat die hoeksteen van die Christelike geloof is, is daar in hierdie dae baie twyfelvrae. Sommige daarvan is opreg, ander kwaadwillig en soms oningelig.

Vir gelowiges staan dit egter vas. Al kan ons die opstanding nie vandag op wetenskaplike maniere bewys nie, is die getuienis vir ons oortuigend. Van die begin af het die vroeë kerk dit bely. Van die begin af het martelare met hulle lewe vir hierdie belydenis betaal.

Maar meer nog. Ons beleef hoe die opgestane Heer vandag nog in hierdie wêreld op ’n reddende en genesende manier werk. Ons twyfel nie. Die opgestane Here leef.

Van die kritici probeer die opstanding afmaak as ’n blote metafoor sonder historiese gronde.

Die een fout wat gelowiges nie moet maak nie, is om te sê dat die opstanding nie ’n metafoor is nie. Dan verskraal ons hierdie ingrypende gebeure tot ’n blote stukkie geskiedenis wat ons probeer verdedig.

Ons moenie die valse teenstelling aanvaar dat die opstanding van Jesus Christus óf histories waar, óf ’n metafoor is nie.

Nee. Juis omdat ons die historiese werklikheid van die opstanding van Jesus Christus uit die dood glo, daarom word dit ’n kragtige metafoor in ons lewe.

Jesus Christus se opstanding uit die dood is die rede waarom ons kan opstaan uit allerlei vorms van doodsheid en ’n nuwe lewe in Jesus Christus kan begin. Jesus Christus se opstanding in die lewe in, is die rede waarom gelowiges eeue lank die evangelie verkondig van nuwe lewe wat vir elkeen moontlik is.

Die ou mens in elke gelowige moet, soos die gekruisigde Jesus, sterf. En die nuwe mens moet, soos die opgestane Christus, herrys.

Dit is die boodskap van Paasfees. Dit is die evangelie wat ons glo en verkondig en lewe.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top