Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Martin Lazenby van Centurion skryf:
As ek so na die gesprek oor dieselfdegeslag-verhoudings luister en sien hoe dikwels die huwelik ter sprake kom, verstom ek my hoe dikwels dit gebeur dat mense amper adamant daarop aandring dat God die huwelik ingestel het.
God het nie die huwelik ingestel nie. Hy het verskeie ander dinge ingestel soos die doop (Matt 28) en die nagmaal (1 Kor 11).
Dit verstom my veral as Genesis 2 gebruik word as die sogenaamde instelling van die huwelik. Ook wanneer Jesus Genesis 2 aanhaal, gebeur dit in die gesprek oor egskeiding en noem Hy dit nie om daarmee te sê dat God die huwelik ingestel het nie, maar omdat Genesis 2 verwys na die beginsel wat geld vir alle huwelike, naamlik dat dit onontbindbaar is. Daarom mag jy nie skei nie.
Indien die Here dan wel die huwelik sou ingestel het, van watter huwelik praat ons dan: die poligame huwelik of die huwelik as besigheidstransaksie soos dit meestal in die Ou Testament gebeur of die swaershuwelik?
Die huwelik soos ons dit ken, kom nie in die Bybel voor nie. Dit het eers in die tweede eeu nC tot stand gekom. Indien al hierdie huwelike waarvan ons in die Bybel lees deur God ingestel sou gewees het, hoekom laat ons dit nie meer toe nie?
Alhoewel God nie die huwelik as sodanig ingestel het nie, gee Hy baie duidelike moreel-etiese beginsels waarvolgens dit ingerig moet word.
Navorsing oor die huwelik toon al meer dat dit deur al die eeue ’n kultuurgebruik is wat volgens elke kultuur se eie norme ingerig word. As dit dan so is, wat verhinder ons om ’n eietydse kultuurverskynsel van die huwelik in dieselfdegeslag-verhoudings te wettig? Die groot vereiste is dat dit ook ingerig moet word met die Bybelse beginsels vir verhoudings as vertrekpunt.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
