Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit is gewoontes wat moet verander

You Are What You Love: The Spiritual
Power of Habit (Kindle edition)
Deur: Smith, James KA
Uitgewer: Baker Publishing Group.
Datum van publikasie: 2016-03-22


You are what you loveAs jy betrokke is by die vorming van dissipels, hetsy as kategeet, kleingroepleier of predikant, is hierdie boek absoluut noodsaaklike leesstof. Die filosoof-teoloog Jimmy Smith van Calvin College in Grand Rapids help ons om te verstaan dat dissipels op ’n heeltemal ander manier gevorm word as wat ons geneig is om te dink.

As kinders van die Verligting en in wese volgelinge van Descartes, sien ons die mens as hoofsaaklik ’n denkende wese. Daarom dink ons dat ’n verandering in denke noodwendig tot lewensverandering lei.

Ons benadering tot die vorming van dissipels is dus: As ons dit net kan regkry om mense anders te laat dink deur kennis op ’n rasionele manier oor te dra en mense help om te verstaan wat die regte dinge is om te doen, sal hulle hulle lewe verander en goeie dissipels word.

Smith sê egter dat ons méér is as net denkende wesens. Ons diepste motivering, ons eintlike rede vir dit wat ons doen, lê baie dieper, naamlik in ons hart (kardia).

Vandaar die titel van die boek. Ons basiese lewensoriëntasie, ons gerigtheid op ’n droom van die soort lewe wat ons diep gelukkig sal maak (telos), (wat merendeels in ons onderbewuste leef), is wat eintlik ons gedrag bepaal. Hierdie gedrag, wat oor en oor herhaal word, word gewoontes en hierdie gewoontes bepaal ons lewe.

Die manier waarop lewensgerigtheid op koers geplaas kan word en nuwe lewensgewoontes gevorm kan word, is, volgens Smith, deur geloofsgewoontes, waarvan aanbidding (worship) die belangrikste is. Aanbidding verander ’n mens se hart en daardeur ’n mens se lewe en lewensgewoontes. Smith argumenteer dat die liturgieë van die wêreld (byvoorbeeld die winkelsentrum as moderne tempel met die priester agter die kasregister), ons lewensoriëntasie verdraai. Ons hart moet “geherkalibreer” word deur ’n liturgie wat op God en sy koninkryk gerig is.

Die vorm van aanbidding is egter belangrik. Indien dit meer ’n vertoning is, eerder as deelname, word ons hart gevange geneem deur die liturgie van die markplein eerder as dié van die koninkryk.

Smith wy besonder waardevolle hoofstukke aan dissipelvorming in die huisgesin en jeuggroepe en bespreek ook die implikasies vir ons beroep en werkplek.

▶ Ds Freddie Schoeman is sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top