Surprise the World: The Five Habits of Highly Missional People
Deur: Michael Frost
Uitgewer: NavPress
Kindle Edition
Datum van publikasie: 2015-11-23
Hoe kan elke gelowige op eenvoudige en praktiese maniere missionaal leef in die omgewing of voorstad waarin die Here hulle geplaas het? Hierdie kort, eenvoudige boekie van die gerekende missioloog, Michael Frost (wat enkele boeke saam met die bekende Alan Hirsch geskryf het), bied ’n maklik verstaanbare en implementeerbare model aan.
Frost se vertrekpunt is om weg te bly van twee uiterstes: aan die een kant ’n hoogs gepoleerde evangelie-aanbieding waardeur mense tot bekering gebring word; en aan die ander kant ’n redusering van ons missionale taak tot dié van kerkbemarkers wat net mense uitnooi na die gemeente toe.
Ons moet “questionable lives” leef, dit wil sê, die ma-nier waarop ons leef moet verrassend wees, in so ’n mate dat dit vrae ontlok – vandaar die titel: Surprise the World.
Vyf basiese missionale geloofsgewoontes word aan die orde gestel en die skrywer wy ’n hoofstuk aan elkeen van die gewoontes. Sy doel, volgens Frost, is “… to equip believers to see themselves as ‘sent ones’, to foster a series of missional habits that shape our lives and values, and to propel us into the world confidently and filled with hope.”
Die gewoontes (baie kortliks) is:
- Kies elke week drie mense (ten minste een buite die gemeente) en gaan uit jou pad om hulle te help of te ondersteun op ’n konkrete, tasbare manier. (“Bless”)
- Kies elke week drie persone (ten minste een buite die gemeente) en maak ’n afspraak om saam met elkeen ’n maaltyd te deel. (“Eat”)
- Sit ten minste een blok tyd (’n hele oggend, middag of aand) per week opsy om doelbewus te luister na die Gees om agter te kom waar God besig is. (“Listen”)
- Leer by Jesus deur elke week ’n blok tyd opsy te sit om die Evangelies te lees en te herlees, boeke oor Jesus te lees en ’n verskeidenheid rolprente oor Jesus te kyk. (“Learn”)
- Begin jouself identifiseer as gestuurde deur ’n joernaal by te hou oor hoe en waar jy mense bewus gemaak het van God se koningsheerskappy deur dit wat jy gedoen of gesê het, en wat die waarneembare uitwerking daarvan was. (“Sent”)
Die eerste letter van elkeen van die vyf woorde wat Frost gebruik om elke gewoonte te beskryf, naamlik “Bless”, “Eat”, “Listen”, “Learn” en “Sent”, spel die woord BELLS.
▶ Ds Freddie Schoeman is sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie.