Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Op soek na oplossings …

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Algemene Sinode 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings en die uitbreiding van die belydenisgrondslag het buitengewone reaksie ontlok. Dit is begroet met SMS-, Twitter- en Whatsapp-boodskappe, kommentaar (positief én negatief) op sosiale media, e-briewe en talle foonoproepe wat eers mettertyd minder begin word het.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/05/Helgard-J-van-Rensburg2.jpg” caption=”Ds Helgard Janse van Rensburg is moderator van die Vrystaatse Sinode.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Toe die Vrystaatse Moderamen vir die eerste keer daarna op 21 November 2015 vergader het, was daar ten minste 28 briewe van individue, kerkrade en ringe op die tafel – onder hulle ’n hele aantal versoeke vir ’n buitengewone vergadering van die Vrystaat Sinode.

Na ernstige oorweging is besluit om te voldoen aan die versoeke. Dit moet egter onder andere voorafgegaan word deur verdere studie, voortgesette gesprekke, en die saamstel van ’n behoorlike verslag aan die sinode. As deel van dié proses is drie streekbyeenkomste in die sinodale gebied gereël.

By elke streekbyeenkoms het dieselfde inleiers die volgende onderwerpe aangebied: Die historiese verloop van besluitneming (1982-2015); Hoe lees ons die Bybel?; en Die kerkordelike en regsimplikasies (van die prosesse daarna).

Daarna is koppe bymekaar gesit aan die hand van die waardes van die Seisoen van Luister (respek, liefde, luister, omgee) – eers in kleiner groepe gevolg deur oop gesprekke vir almal. Met vrymoedigheid is standpunte openhartig, reguit en eerlik gestel. Benewens ander, het die volgende belangrike punte telkens na vore gekom:

  • Die Bybel as grondslag in besluitneming;
  • Die gereformeerde belydenisskrifte en kerklike tradisie;
  • Die plek en rol van die algemene openbaring (natuur- en menswetenskappe, ens);
  • Kerklike strukture – die samestelling van die Algemene Sinode, groeiende kloof tussen die sogenaamde kerkleierskap en gemeentes/lidmate;
  • Kerkregtelike prosesse in die hantering van die appèlle en op die pad vorentoe.

Die luisterspan het ’n verskeidenheid emosies waargeneem: ontnugtering, teleurstelling, hartseer, pyn, woede, vrees, frustrasie, onsekerheid, moegheid, integriteit, en konfronterende gedrag.

Met erkenning van my eie subjektiwiteit, oordeel ek dat die volgende dringend aandag moet geniet:

Die Bybel – uitsluitsel moet verkry word oor die NG Kerk se Skrifbeskouing: die wyse waarop ons die Skrif hanteer, interpreteer en verstaan. Ons kan nie daarop aanspraak maak dat ons die Skrif ernstig neem, maar in ons verslae en debatte kom die Skrif self bykans nooit self aan die woord nie. NGB Artikel 2 gee we­liswaar erkenning aan God se algemene openbaring, maar stel dit dan ondubbelsinnig dat “Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend (maak) …”

Ons taal en lyftaal. Ons moet die vraagstukke hanteer as kerklike sake op ’n kerklike wyse en dit moet weerspieël word in ons gesindhede, woordkeuses en houdings. Dit vereis ook duidelike definisies – ons gebruik byvoorbeeld dikwels woorde soos “homoseksualiteit” (verwysend na oriëntasie?) en “homoseksualisme” (verwysend na gedrag?) sonder onderskeid, praat bymekaar verby, hoor nie regtig wat die ander sê nie, en stel so strooi-poppe op wat ons dan hand en tand beveg.

Terwyl elkeen eie standpunte het en ons steeds worstel in ’n soeke na nog duideliker antwoorde, moet ons volhou met Christelike liefde vir en die pastorale versorging van almal wat geraak word (1 Pet 5:2a).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top