Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Christo Herbst van Trompsburg skryf:
Aangaande die debat oor homoseksualiteit.
Kom ons aanvaar twee uitgangspunte wat goed deurtrap is: Eerstens dat daar twee wyses is waarmee na die Skrif gekyk word: konfessioneel en kultuurhistories.
’n Tweede uitgangspunt, wat waarskynlik nie deur almal besef word nie, is dat almal van ons subjektief die Bybel lees én wetenskaplik daarmee omgaan. Hierdie is baie duidelik wanneer Skrifgeleerdes mekaar kritiseer oor hul uitkomste ná hul onderskeie wetenskaplike handeling.
Na my mening het die Namibiese Sinode die beste gevaar ten einde hierdie uitgangspunte in balans te bring (soos deur Neels Jackson beskryf) en ’n derde daarby te haak.
Daarmee my stuiwer in die armbeurs: Ek erken dat ek die Bybel vanuit ’n subjektiewe verstaan lees en bestudeer. Ek aanvaar ’n wetenskaplike verantwoorde hantering van die Bybel in soverre ek my subjektiewe hantering daarvan kan in- en uitleef.
In my hermeneutiese werk put ek uit baie bronne in die lees van die teks asook vanuit die werklikheid waarin ek leef. Ek kom by baie kontraste uit waarin ek subjektiewe keuses moet maak, wat dan nie so wetenskaplik is nie, maar eerder die geloofsprong van die geloof in die God wat ons ook naïewelik-wetenskaplik Drie-enig sou noem.
Die geloof in hierdie God en die strewe om vir Hom te leef, laat my ’n keuse maak vir ’n morele rigtinggewer buite my eie denke en aanvaarding.
Wanneer kontraste in my subjektiewe liefde vir mense en die Woord van God (soos ek dit as uitgangspunt aanvaar) teen mekaar opstaan, beweeg ek dus na die Bron terwyl ek in my rede daarmee worstel en wetenskaplik daarmee omgaan.
Die uiteinde is ’n konklusie wat sê: “’n Seksuele oriëntasie na dieselfde geslag is ’n onverstaanbare werklikheid. Dit is tog duidelik dat die Woord van God verskeie soorte seksuele optredes veroordeel, maar die twee wat die skerpste veroordeel word is prostitusie en seks met dieselfde geslag.” (Aldus die besluit van die Sinode van Namibië).
Dit terwyl ek iemand naby my het wat met hierdie onverstaanbare werklikheid worstel.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
