Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henda Gaum van Glentana skryf:
’n Tekste-oorlog is in die NG Kerk aan die woed. En dit oor gays! (Amper soos destyds met die beker of kelkies by die nagmaal; of vroue wat hoede kerk toe moes dra; of die vrou in die amp; of, meer onlangs, Belhar …). Sinodes wil wegbreek. Predikante peper mekaar met tekste. Gemeentes kies kant. Moderators dans rond en probeer vure doodslaan. En dit alles in die NG Kerk se Seisoen van Menswaardigheid …
Ek wonder of daar in hierdie oorlog ooit gedink word hoe gay mense dit alles moet beleef. Word daar ook vir húlle gevra hoe hulle oor alles voel wat bo-oor hulle kop aan die gang is?
Daar was onder gelowige gays soveel vreugde oor die dapper amper tweederde-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings. En toe die bitter teleurstelling van ’n “gevriesde” besluit.
Want dié teks sê so en daai teks sê sus, en ons vergeet in die proses skoon van die liefde wat die vervulling van die wet is, die liefde wat die naaste nie kwaad aandoen nie. En as jy iemand se menswaardigheid aan-tas, doen jy hom/haar vanselfsprekend kwaad aan … en is daar nie liefde nie.
Ek is seker daarvan dat, as Jesus nou op aarde was, Hy gays sou omhels het, hulle sou verseker het dat God hulle geskape het net soos hulle is, en dat hulle hulle nie oor die tekste-oorlog moet ontstel nie.
Ongelukkig is daar op die oomblik min predikante wat dapper genoeg is om hulle gemeentes te lei om hierdie saak beter te verstaan deur byvoorbeeld gelowige gays uit te nooi om hulle kant van die saak te kom stel. Die tekste-oorlog woed voort terwyl die gays (soos nog altyd in die verlede) eenkant gestoot word.
Ek dink die Here Jesus sou sy kop geskud het oor diegene wat gesorg het dat ’n besluit van ’n sinode om die menswaardigheid van gay mense volledig te erken, “gevries” is. Sodat dit, hoop hulle, by ’n volgende sinode finaal gekelder sal word.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
