Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gevra: ’n veelkantige kerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is ou nuus dat ons in ’n veelkantige tyd leef. Verskeidenheid en afwisseling is die in-ding. Die keuse lê lankal nie meer in een regte opsie uit twee moontlikhede nie. Dit is nie meer óf-óf nie, dit is eerder én-én. So ’n tyd huisves veelkantige mense. Mense vertolk ’n verskeidenheid van rolle in ’n komplekse netwerk van verhoudings. In so ’n tyd met sulke mense is daar ’n verwagting na ’n veelkantige kerk.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/06/Snyman-Fanie-OVS-sw.jpg” caption=”Prof SD (Fanie) Snyman is dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en assessor van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Hier is ’n paar van die kante wat ’n veelkantige kerk sal moet vertoon:

  • Die kerk se werk is om God ter sprake te bring in die wêreld. Daar is geen ander instansie wat dit as taak het nie. As die kerk nie God ter sprake bring nie, is daar nie eintlik ander instansies wat dit op hulle sal neem om dit namens die kerk te doen nie. In ’n toenemend sekulariserende wêreld is die kerk se gerigtheid op God belangrik. ’n Veelkantige kerk sal op veelkantige maniere die veelkantige God wat ons bely, ter sprake moet bring.
  • Om God ter sprake te bring, sal die kerk haar moet bly oriënteer aan die Bybel. Die Bybel bly die oorsprongsdokument van die kerk en mees betroubare getuienis aangaande God. Die Bybel self is ’n veelkantige boek wat op verskillende maniere oor God praat. ’n Veelkantige kerk is sensitief daarvoor dat die Bybel die vertrekpunt en eindpunt van nadenke is. ’n Kerk waar die Bybel uit die sentrum verdwyn is eintlik ondenkbaar.
  • Veelkantige mense het ook ’n spirituele kant, ’n gewaarwording van om in kontak te wees met Iemand groter as ek. Daarvoor sal ’n veelkantige kerk voorsiening moet maak in eredienste waar lidmate dit beleef as egte ontmoetingsgeleenthede met God. Eredienste is nie motiveringsgeleenthede of geestelike vermaak om “goed te voel” vir nog ’n week nie.
  • ’n Veelkantige kerk is gerig op die wêreld waarin sy haar bevind. Die kerk sal as gespreksgenoot deelneem aan openbare debatte wat gevoer word. ’n Veelkantige kerk sal ook op ’n konkrete manier hulp verleen aan brose, kwesbare mense – so konkreet soos kos en klere en komberse in koue winters. Op dié manier sal ’n veelkantige kerk ’n liefdevolle kant vertoon wat ’n vergestalting van die liefde van Jesus Christus sal wees en waartoe Christus as Hoof van die kerk lidmate oproep.
  • ’n Veelkantige kerk is ’n geloofwaardige getuie in ’n veelkantige wêreld vir veelkantige mense. Om ’n geloofwaardige getuie te wees beteken om ’n oortuigende getuie te wees – ’n getuie wat jou oortuig op grond van die waarheid en integriteit van die getuienis wat aangebied word. Om ’n geloofwaardige getuie te wees beteken ook om ’n getuie waardig die geloof te wees. Dit beteken dat daar kongruensie sal wees tussen die getuie en die geloof van waaruit en waaroor daar getuig word.

Kortom, in ’n veelkantige wêreld met veelkantige mense sal die kerk ’n veelkantigheid vertoon om met geloofwaardigheid God met woord en daad ter sprake te bring.

Prof SD (Fanie) Snyman is dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en assessor van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top