LIFE IN GOD: JOHN CALVIN, PRACTICAL FORMATION, AND THE FUTURE OF PROTESTANT THEOLOGY
Deur: Matthew Myer Boulton
Uitgewer: Eerdmans, Grand Rapids (Kindle Edition), 2011
Vir almal wat belangstel in gereformeerde spiritualiteit en die praktyk van geloofsdissiplines vanuit ’n gereformeerde gesigspunt, is hierdie boek ’n wonderlike aanwins. Matthew Boulton bied ’n omvattende en plek-plek verrassende perspektief op Calvyn se projek om die inwoners van Genève se geloof te vorm.
Calvyn was téén die kloosterwese. Dit sou ons kon raai. Calvyn het dit egter nie teen die praktyke wat in kloosters plaasgevind het – die opbouende, geloofsvormende, Skrifgebaseerde praktyke – gehad nie, maar die feit dat die monnike en die nonne dit vir hulleself gehou het.
Vir Calvyn was een van die doelstellings van die reformasie dat die spiritualiteit van die kloosters die hele samelewing sou deurdrenk. Daar moes ’n gelykstelling tussen priesters en gelowiges plaasvind.
Hy stel dit so: “Whatever sanctifying, formative exercises marked and edified monks and clergy, then, to the extent that those practices were grounded in Scripture, they should be made available to all Christians everywhere, mutatis mutandis.”
Volgens Boulton moet Calvyn se werk, veral sy Institusie, gesien word as ’n poging om die gedagte dat die hele lewe coram Deo (“voor die aangesig van God” en daarom heilig) is, nie net die lewe van die monnik in die klooster nie, te laat posvat en te vestig in die daaglikse geloofslewe van almal in die stad.
Boulton se boek bestaan uit drie dele:
- Eerstens bied hy ’n historiese oorsig oor Calvyn se geloofsvormingsprojek in Geneve – “… a holistic program of ideas and exercises, training and study, all meant to form disciples toward genuine pietas …”
- Tweedens behandel hy sewe sleutel- teologiese temas. Boulton argumenteer dat Calvyn deurgaans leerstellings in diens van geloofsvorming plaas met as doel die voortgaande gemeenskap en eenheid met God in Christus.
- In die derde deel val die klem op hedendaagse praktyk – hoe ons vandag Calvyn se idees kan herwin. Hoewel Boulton op ’n aantal gevaarpunte in Calvyn se benadering wys, val die klem op die bruikbare en nuttige maniere waarop sy geloofsvormingsprogram prakties in gemeentes geïmplementeer kan word.
Vir Calvyn, sê Boulton, is die gemeente ’n geloofsgimnasium, ’n ruimte waarbinne die gelowige gevorm, ontwikkel, gelei en geïnspireer word om dag in en dag uit die lewe van ’n Christen in die gemeenskap en die wêreld te leef. Deel van hierdie program is die weeklikse viering van die Nagmaal …!
▶ Ds Freddie Schoeman is predikant van die NG gemeente Lyttelton-Oos.