Dit is ’n kragtige beeld wat in Psalm 1 gebruik word, dié van die boom wat by waterstrome geplant is.
Hoe graag sou die kerk nie ook soos hierdie boom wou wees nie. Diep gewortel in die Lewende Water. Groeikrag en vrug wat daarvan getuig.
Tekens daarvan is daar wel. Dit sien ons in die talle getuienisse van God se liefde wat deur sy gemeentes en deur sy mense na die wêreld toe vloei. Ons sien dit in die ontwaking van ’n missionale bewussyn wat maak dat mense nie net wil glo nie, maar daardie geloof in dade wil uitleef teenoor ’n wêreld vol nood.
Hieroor is God se woord immers klokhelder.
Terwyl die NG Kerk worstel met ander kwessies soos gay-verhoudings en hoe om God se Woord daaroor te verstaan, is dit belangrik dat ons hierdie helder fokus behou.
Meningsverskille kan verlammend inwerk op die kerk, maar ons mag nie toelaat dat verskille oor een saak (hoe sterk ons ook daaroor voel) ons energie so steel dat ons nie langer dit waaroor ons saamstem, kan uitleef nie.
En die fokus is helder: Jesus is die Here. Hy is die opgestane Here wat regeer. Hy bring vir ons vergifnis en Hy bring vir ons heling. Hy is die Goeie Herder wat ons voed en wat ons beskerm teen gevaar. Hy is die een wat vir ons die lewe bring, en dit in oorvloed.
Hy is ook die Here wat ons roep om Hom te volg, om deel te word van sy sending na ’n wêreld in nood. Hy noem ons sy liggaam, die liggaam waardeur Hy steeds helend en voedend en beskermend en reddend in die wêreld betrokke is.
En om dit te kan doen, om ons geloof op hierdie manier uit te leef, is dit belangrik dat ons ons deur sy Woord laat lei, dat ons ons krag by die Here gaan put, dat ons in Hom gewortel bly.
Soos die boom van Psalm 1 wat by waterstrome geplant is.
