PEOPLE TO BE LOVED: WHY HOMOSEXUALITY IS NOT JUST AN ISSUE
Deur: Preston Sprinkle
Uitgegee deur Zondervan
Sprinkle kry dit uitstekend reg om oor die moeilike kwessie van homoseksualiteit op ’n baie kredietwaardige manier te praat.
Hy skryf oor homoseksualiteit op ’n manier dat dit voel asof ons iewers by ’n koffiewinkel sit en gesels en hy my aan sy vriende voorstel terwyl die Bybel oop op die tafel lê en ons die moeilike vrae wat mense het een vir een vanuit die Bybel beantwoord.
Sprinkle se werk staan op die fondasie dat Jesus mense radikaal liefhet. Dat Jesus bemoeienis met mense maak. Alle mense, maar veral sondaars. Die kerk vandag, kry dit ongelukkig nie reg nie. Die kerk veroordeel en verdoem sondaars ongelukkig te maklik.
In hierdie boek behandel Sprinkle, teoloog aan die Eternity Bible College, elke teksgedeelte in die Bybel wat oor homoseksualiteit praat. Hy doen deeglike eksegese en lê nie net klem op wat die teks sê nie, maar ook wat die teks bedoel.

Hy beoordeel alle sienings – dié vir homoseksualiteit asook dié daarteen maar begrond sy eie siening slegs op wat die Skrif leer. Deurgaans word ons voorgestel aan jong manne en vroue wat sukkel met selfdegeslagaangetrokkenheid en hoe hulle die worsteling van hulle situasie beleef.
Preston Sprinkle het my verras! Ek het elke woord ingedrink en sy manier van skryf het my só geboei dat ek die boek nie kon neersit nie. Ek het werklik gevoel asof ek ’n student in sy klas is maar ook ’n vriend is saam met wie hy kuier.
Sprinkle is ’n goed opgeleide teoloog wat deeglike navorsing gebruik in sy skryfwerk. Hy beweeg gemaklik na elke hoek van die debat en haal geweldig baie navorsers aan om sy opinie te lug. Maar dan neem hy op ’n liefdevolle manier standpunt in en net omdat die Woord van God hom daartoe lei.
Sy standpunt kom ook ten spyte van sy baie gay vriende se ervarings. Jy lees die pyn raak van hoe hy saam worstel op soek na ’n antwoord. Hy glo byvoorbeeld dat hy nie hierdie studie kon doen sonder om met gay mense te gesels en hulle opinies te hoor nie.
Hierdie boek het my gehelp om die waarheid van die Woord raak te sien, maar ook om die genade van Jesus in my eie verhoudings terug te bring.
▶ Ds Janlu Kuyler is predikant van die NG gemeente Moreletapark in Pretoria.