Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Leraar
Sluitingsdatum: 19 Augustus 2016
Gemeenteprofiel:
Rietbron is ’n klein plattelandse gemeenskap van veral jong kleinveeboere. Daar is ’n klein laerskooltjie, met hoë kwaliteit onderrig, wat ons kinders bedien. Die meeste kinders in die skool kom egter van Willowmore af. Die dorp het winkels vir basiese benodigdhede, maar groot besigheid en medies word in omliggende dorpe gedoen. Die gemeenskap word gekenmerk deur groot offervaardigheid en samewerking in belang van die kerk en skool. Droogte is deel van ons bestaan.
Profiel van die ideale leraar om saam met ons te werk:
Hy/sy is verkieslik minstens 35 jaar oud met ervaring van gemeentebediening.
Hy/sy is ’n geestelike en emosionele volwasse persoon wat sy/haar swakpunte verstaan en nie bedreig word deur meningsverskille nie.
Geestelike verdieping van lidmate is sy/haar prioriteit.
Hy/sy het ’n goeie aanslag met jong gesinne met voorskoolse kinders, maar het ook begrip vir ouer boeregesinne en hulle waardes en denkwyses.
Hy/sy is ’n mens-mens en stel belang in die boerdery-aktiwiteite van lidmate. Sommige lidmate verkies ook eerder ’n infomele besoek by die kraal as formele huisbesoek.
Hy/sy is lus vir bediening op Rietbron en wil graag hier wees en skakel in by die funksies van die gemeenskap, hy/sy is entoesiasties oor die skool en ondersteun die personeel en kinders.
Sy/haar erediens is ’n tradisionele gereformeerde diens met afwisseling deur gebruikmaking van eietydse jeugliedere, visuele hulpmiddels en simboliek.
Hy/sy is geduldig om eers begrip te ontwikkel vir werkswyse en tradisies van die gemeente, alvorens daar met veranderinge begin word.
Hy/sy neem kennis van die kerkraad se standpunte oor sensitiewe sake, soos die Belydenis van Belhar en die gay-debat, en gaan met wysheid daarmee om.
Hy/sy is ingestel op bedieningsontwikkeling en woon kursusse by om dit te bereik.
Aard van die pos: Permanent.
Ampspligte: Soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde.
Aansoeke: Geordende predikante van die NG Kerk word genooi om ’n aansoek, ’n CV asook die name van drie referente na onderstaande e-posadres voor 19 Augustus 2016 te stuur.
Vergoeding: ’n Pakket van R288 000 word aangebied. ’n Pastorie en vakman-gereedskap soos ’n gemeentevoertuig is beskikbaar.
Kontakbesonderhede:
Kerkkantoor: e-pos: ngrietbron@gmail.com Tel: Me Emmery Zietsman, 079 383 4944.
Leraar: Dr Michiel van der Merwe, tel: 083 590 6564, 044 934 1136.
Aansoekers moet bereid wees om na Rietbron te reis vir ’n onderhoud. Die kerkraad behou die reg om geen aanstelling te maak nie.
