Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albert Alberts van Waterkloof skryf:
As ’n gewone lidmaat van ’n NG gemeente is dit hartseer om te sien hoe die debat oor gay mense voortduur sonder ’n oplossing in sig.
In my Bybelstudie is ek nou by Handelinge 15 en het gesien hoe heftig die verskille tussen die Christene van Judea en Paulus was oor die besnydenis – tot so ’n mate dat hulle die eerste vergadering van gelowiges (lees sinode) bymekaar geroep het in Jerusalem.
Ek kan die punt van die Christene uit Judea verstaan. Die besnydenis was ’n verbond tussen ’n Jood en God wat absoluut was en nie uitgedaag kon word deur enigiets nie. Dit was bokant die mens se verstand en het absolute toewyding vereis. Dit moes baie moeilik gewees het om die siening aan te pas.
Petrus vertel weer van sy ervaring met Kornelius – gelowiges word net deur die genade van die Here Jesus gered. Paulus en Barnabas vertel van die tekens en wonders wat God gedoen het onder die heidennasies sonder enige voorskrif of verwysing na die besnydenis.
Aan die einde van al die gesprekke het Jakobus die volgende kompromie-besluit opgesom. Heidene wat Christene word hoef nie besny te word nie, maar almal moet hulleself weerhou van afgodsvleis, onsedelikheid, verwurgde diere en bloed.
Vir beide kante was dit ’n betekenisvolle opoffering. Die voorstanders van die besnydenis het hulle posisie laat vaar. Paulus moes die voorskrif oor afgodsvleis aan nuut bekeerde Christene oordra. Dit moes ook baie moeilik vir hom gewees het, want redding is net deur Christus alleen.
Daar was wye instemming oor die besluit. Is dit dalk moontlik dat alle leraars van die sinode so ’n tipe van vergadering hou? Is dit dalk moontlik dat ten spyte van diepliggende verskille soos hierbo, daar tog ’n kompromie kan kom?
Is dit dalk moontlik dat gay mense in die kompromie geakkommodeer kan word?
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
