Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met Van Gogh op ’n verbeeldingryke reis

The Divine Commodity: Discovering A Faith Beyond Consumer Christianity
Skrywer: Skye Jethani
Uitgewer: Zondervan 2009


Ek het nie geweet dat die skilder Vincent van Gogh op sy dag ’n NG dominee was, én ’n sendeling van die Nederlandse Gereformeerde Kerk onder Belgiese mynwerkers, of dat sy werke deurspoel word met sterk Christelike simboliek nie – nie voordat ek Jethani se boek gelees (in oudio-formaat geluister) het nie.

Die boek handel nie oor Van Gogh as sulks nie, maar nooi dié geloofsworstelende kunstenaar om, met behulp van sy skilderye en briewe, ons gids te wees op ’n buitengewone reis.

Die moderne Westerse kerk het haar Godgegewe verbeelding verloor, argumenteer Jethani (én Van Gogh), en noodlottig verstrik geraak in die verbrui­kerskultuur van ons tyd. Ons het God gereduseer tot ’n beheerbare kommoditeit, en maak institute in plaas van mense die draers van sy goddelike krag.

The devine commodity

Maar sy boek is veel méér as ’n treurmare oor alles wat verkeerd gegaan het. Dit is ’n vrolike, hoopvolle, ja, verbeeldingryke, viering van die weg na bevryding. Die gejaag na kitsbevrediging vervlak ons kultuur, skryf hy onder meer, maar navolging van die lydende Christus lei na werklike vreugde; ’n verbruikersmentaliteit verontmenslik ander persone, maar diep Christelike gasvryheid bring genesing.

Wat die boek besonders maak, is dat Jethani toepas wat hy bepleit: Sy skryfstyl en verhale resoneer met dieselfde gees as dié van die geneesde geloofsgemeenskap wat hy voor ons geestesoë oproep. Die inhoud is duiselwekkend diep, maar dit lees/luister doodeenvoudig lekker. Die boek word onderskryf deur swaargewigte so uiteenlopend soos Scot McKnight, Walter Brueggemann, Frank Viola, Alan Hirsch – én Brian McLaren.

Die saak waarop Jethani sy vinger lê is oorlewings­belangrik vir die Westerse kerk vandag. “Daar is ’n verskil,” sê hy, “tussen lééf in ’n verbruikerskultuur, en die omhelsing van ’n verbruikers-lewensbeskouing”. Inderdaad.

Ds Ernst Muller is ’n emeritus-predikant van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top