Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

So sê julle sê Hy

In die kerklike debat oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, is dit belangrik om ook gay mense se stemme te hoor. Die gedig hierby is die reaksie van ’n gelowige, ’n gay lidmaat van die NG Kerk, op besluite van die kerk oor gay-seksualiteit. Om nog meer pyn te vermy, verkies die skrywer hiervan om anoniem te bly.


U sê U is lief vir my; maak nie saak wat nie
U sê hou net vas aan my mantel
roep My aan
Ek sal aan jou dinge bekend maak wat jy nie verstaan nie
U sê U sal my vashou solank as wat ek na U soek
nog steeds is ek stoksielalleen
op my eie moet ek nou hiermee worstel
want U is blykbaar by hulle en nie by my nie
want hulle is reg
en ek is verkeerd
ek moet verander, na wat hulle van hou
en wat hulle verstaan
inpas in hulle boksie
dit wat hulle kan verduidelik
en kan sê, ons verstaan dit
en beheer dit
“Hy dwing ons nie om te dink nie”
so dan is daar nie probleme nie
omdat so spreek die Here
blykbaar
my God waar is U in so ’n uur
in so ’n uur
ons roep al sagter en sagter
want die dak is net te laag
te bang om op ons knieë te staan
want wat sal dit help
ons moet mos eers verander
voor U sal luister
hoe raak een persoon so leeg
droog
totaal dor
daar is niks meer nie
waar is die leiers van ons geloof
my God hoe het ons hier gekom
op hierdie godverlate Liefdelose plek
waar kom hierdie pyn vandaan
wat maak ek met die pyn
ons kners in stilte
hoe lank nog
dié kan ons nie sê nie
in God se beeld geskep is ons
of nie?
in wie se beeld dan?
waar kom die gevoel binne my dan vandaan?
praat ek met U
U wil my blykbaar nie hê nie
my dade verafsku U
my wese haat U
my “onverstaanbare werklikheid” verwerp U
in God se beeld is ek geskep
dis nie normaal nie
God hou van normaal
is God dan net normaal?
sê hulle
so spreek die Here, uiter hulle
is hierdie werklik God
of is dit hulle weergawe van God
die God wat hulle van hou
die God wat hulle kan verstaan
God geskape in die beeld van die mens
werklik pragtig
jy eis van my liefde
maar hoe gee ek liefde
as ek leeg is
“Selibaat sal jy onderteken!”
want ons verstaan jou nie
en as ons nie doen nie dan doen God ook nie
die verwerping van my eie mense kyk my vierkantig in die oë
die haat
woorde soos kafferboetie, volksverraaier en moffie
fluister my saans wakker
beskuldigings van dwaalleer links en regs
wanneer sal julle verstaan
sal julle ooit begryp
die pyn van verwerping
veroordeling
abnormaliteit
“anders wees”
die seer van verplaaste skaamte
die pyn van ongemak in geliefdes se oë
’n ma wat huil snags
en ’n pa wat in stilte sit en tob
hoe beroof jy ’n man van dit alles
in die naam van die Here
omdat so spreek die Here
sonder om skaam te kry
sê julle net wat julle wil
in stilte sit en gesels julle oor die kwessies op hande
die onverstaanbare natuurlike fenomeen
julle neem besluite oor die toekoms
die toekoms van “hierdie mense”
soos ’n bloemis na die somerlelies kyk
en besluit in watter ruiker hulle sal pas
so hou julle ons dop
tog na die lelie geknip is,
is dit nie meer ’n lelie nie
dis nou deel van ’n ruiker
beroof van sy titel en prag
geforseer om iets anders te wees
iets wat ons nie is nie
en so word daar ’n tydspan op ons lewens gesit
so beroof jy ’n persoon van die ewige lewe
so misvorm julle ons
maak ons droog
ontbloot ons
tot ons nes julle lyk
leeg, droog en almal eenders.
alles net omdat
so sê julle sê Hy

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top